Leon van Nierop se resensie: Late Night

Late Night ***
Met Emma Thompson en Mindy Kaling
Regisseur: Nisha Ganatra

Jy kan nie vandeesweek ʼn groter kontras kry as tussen die grieselrige Joker (met Joaquin Phoenix en Robert de Niro) en hierdie vrolike Dowwe Dolla-kaperjolle nie. Nie dat dié Dollas dof is nie, maar hul monde is so skerp soos Minora-skeermeslemmetjies!

Die altyd-betroubare Emma Thompson, wat gedurig lettergrepe rondom die warm aartappel in haar mond probeer vorm, bied ʼn laataand-kletsprogram aan. Maar sy is emosioneel venynig en katterig, voel vere vir die ouens wat haar tekste skryf en sweef so verwaand soos ʼn pou tussen haar volgelinge deur.

Sy word aangeraai om ʼn vroueskrywer op haar paneel aan te stel, en dis waar die woordvonke bars. Die nuwe meisie wat aangestel word ken nie eintlik televisie nie, weet nie hoe ʼn mens kwinkslae vir ʼn komedieprogram skryf nie, en hou nie haar tong in toom teenoor die Thompson-kletsprogramaanbieder nie. Dit sorg vir skaterlag-stik-in-jou-springmielies oomblikke.

Alhoewel vroue soms gestereotipeer word, en nie alle sêgoed so snaaks is soos die skrywers dink nie (dit tref nie die kol elke keer nie) is dit ʼn welkome blaaskansie van die anargie van ander rolprente soos Rambo: Last Blood (met Sylvester Stallone) tans op die kringloop.

Aanbeveel as ligte ontspanningsvermaak wat nie te diep (of diep genoeg) onder die oppervlakte van vroueverhoudings delf nie.

Die fliek wys tans by SterKinekor en NuMetro

Leon van Nierop resenseer weekliks rolprente soos hierdie een op sy Facebook-blad. Besoek ook sy blad vir resensies oor rolprente met lokprente en interessante feite

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.