Leon van Nierop se resensie: Little Fires Everywhere

Reese Witherspoon in “Little Fires Everywhere”

Little Fires Everywhere ****
Met Reese Witherspoon en Kerry Washington
Skepper: Liz Tigelaar

Die term vraatkyk kry deesdae, in die hartjie van die grendelgreeptyd, ʼn nuwe betekenis. Dit neem eintlik die plek in van fliek toe gaan, want lesers kan soms vir ure aaneen na ʼn storie kyk en hulle verbeel dit is eintlik ʼn rolprent!

Little Fires Everywhere, wat op 1 Julie op Showmax begin het, is so ʼn reeks. Dis verslawend sodat jy sommer vinnig die skip intro-gedeelte oorslaan wanneer die volgende episode haarself voordoen. Hierdie is ʼn intense gesinsdrama wat op vele vlakke funksioneer. Dit mag ouers laat herbesin oor wat gesinsbande beteken, hoe hulle hul kinders grootmaak, die daaglikse ingewikkelde interaksie om hul spruite te bestuur en gevaartekens wat hulle moet opmerk wanneer frustrasies (wat kinders dikwels van hul ouers wegsteek) buite beheer kan raak.

Die reeks begin met ʼn voortgedrewe en obsessiewe ma, Elena, uitstekend en amper geobsedeer gespeel deur Reese Witherspoon, wie se huis aan die brand gesteek word. Wie het dit gedoen, en hoekom? Hierna loop ons saam met haar op haar brandende voetspore terug en wys hoe sy vyande gemaak het, so vinnig soos mense kalorieë versamel terwyl hulle op die rusbank uitstoel.

Sy ontmoet onder andere ʼn vrou (Kerry Washington) en haar dogter (Pearl Warren) wat op straat in hul motor probeer oorleef. Elena oortuig haarself om haar ander huis aan die twee vroue uit te verhuur. En dis waar die drama en konflik begin…

Die reeks is ʼn trappie bokant die gewone sepies waaraan baie lesers hulleself dikwels daagliks oorgee, maar is meer bevredigend. Die karakterisering is meer geskakeerd, die gebeure beter deurdink (en nie so absurd nie), en die verloop gemotiveer. Maar dit gaan veral oor die invloed wat twee uiteenlopende gesinne op mekaar het en hoe ma’s dikwels hul eie kinders onderskat en nie besef wat werklik in hul lewens gebeur nie.

Vraatkyk dit op Showmax en vergeet van knellende koerantopskrifte. Ander mense se probleme help jou dikwels om van jou eie te vergeet…

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Mariska ·

Ek het die afgelope naweek hierdie reeks klaar gekyk op Amazon Prime Video. Ek is maar ‘n gewone kyker en het nie tegniese kennis van rolprent maak nie.

Hierdie reeks is net so-so. Nie naastenby so goed soos Reese se “Big Little Lies” nie. Kerry Washington, alhoewel sy pragtig is, het die hele reeks ‘n afkeurende trek op haar gesig, asof sy Reese Witherspoon en haar gesin nie kan verdra nie. Dit irriteer. Hoekom gaan werk sy dan vir die blanke gesin as sy hulle so haat? Reese Witherspoon se toneelspel is ook baie swak. Asof sy halfpad deur die reeks besef het haar karakter is die kluts kwyt en sy wil haar nie nie meer vertolk nie. Die kinders in die reeks is ook hopeloos te groot vir hul skoene. Nee wat, nie die beste reeks wat ek al gesien het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.