Leon van Nierop se resensie: Love Sarah

LOVE SARAH     ***
Met Candice Brown en Shelly Conn
Regisseur: Eliza Schroeder

Ag kom nou, jou suinige ou bitterbessie, dink lesers seker nadat hulle hierdie fliek gesien het wat op Vrydag 7 Mei begin, jy kon darem ʼn vierde ster bygesit het suurknol, veral nadat jy deur die grusame Netflix-reeks, The Serpent, gesit het. Want hierdie is die presiese teenoorgestelde daarvan. Wees verseker, nadat jy met Sarah en haar onbaatsugtige liefde kennis gemaak het, sal jy dadelik na die naaste koekroller gryp en ywerig begin deeg uitrol terwyl jy na die bakpoeier soek.

Dit gaan oor ʼn jong meisie (en dis skynbaar op die waarheid gegrond) wat haar eie bakkery in Londen wou open sonder genoeg geld. Buitendien, na haar ma se dood, aan wie die bakkery behoort het, wil sy haar nalatenskap voortsit. Maar die bakkery wil net nie werk nie. Tot sy op ʼn blink idee kom wat nie hier verklap mag word nie. Eers wanneer sy twee eiers en ʼn lepel bakpoeier bymekaarsit en 3 kry, besef sy waar sy die restaurantspoor byster geraak het. En sy haal verlore tyd met die spoed in van suiker wat in romerige melk smelt.

Dit saam met ʼn aantreklike (hoe dan anders, kompleet met stoppels!) Italiaanse sjef wat haar bystaan en sekere mosterdsaadjies in haar kop plant. Maar hulle maak nie net Italiaanse kos nie, hoor. Dis die geheim van die rolprent!

Lanklaas gelag? Nie eintlik ʼn bakker nie, maar jy het nog altyd die begeerte gehad om soetighede of ander lippe-aflek-disse voor te sit wat mense laat swymel en popel? Dan is hierdie die rolprent vir jou. Dis jolig, dis hartseer, dis slim, en ai, Italianers met stoppelbaarde en Engelse rose met angelierwangetjies is darem die ideale kombinasie. Voeg daarby wulpse versiersuiker en vele kerse op baie klein tertjies en koeke, en jy sal Love, Sarah se sjarme verstaan.

Gaan kyk beslis. Dit begin Vrydag 7 Mei slegs in rolprentteaters. En basta met lui wees om uit te gaan of ongemaklik te voel om weer in ʼn teater saam met ander mense te sit! Wat is dit met jou? Hierdie gastronomiese fees moet met ander mense (en springmielies) gedeel word.

Aanbeveel met romerige versiersuiker oor sy kolwyntjielyf.

Die fliek is by Ster-Kinekor en NuMetro te sien.

Leon van Nierop resenseer weekliks rolprente soos hierdie een op sy Facebook-blad. Besoek ook sy blad vir resensies oor rolprente met lokprente en interessante feite

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.