Leon van Nierop se resensie: Loving Vincent

Loving Vincent – 4 sterre
Met Douglas Booth en Saoirse Ronan
Regisseurs: Dorota Kobiela en Hugh Welchman

Hier is ʼn kunsrolprent in die ware sin van die woord wat jou lewe kan verander. Dit is dan ook benoem vir ʼn Oscar as beste animasierolprent. Maar moenie Mickey Muis of die wrede koningin in Frozen verwag nie.

Meer as ʼn honderd kunstenaars het vyf jaar lank hieraan gewerk en het die beroemde en tragiese kunstenaar, Vincent van Gogh, se lewensverhaal deur middel van bewegende skilderye vertel. Dit beteken dat werklike akteurs al die rolle gespeel het van die mense wat ʼn invloed op sy lewe gehad het, maar dat hulle lewensgetrou geskets is met die akteur wat die bewegings uitgevoer het. Maar die mees unieke element in hierdie storie is: die meeste van sy beroemdste skilderye kry hier lewe en beweeg terwyl die karakters voor die landskappe staan, (soos die kraaie oor die koringland of die sterbesaaide uitspansel), en sy verhaal vertel.

Voornemende kykers moet besef dit neem ʼn rukkie vir jou oë om aan die tegniek gewoond te raak, maar as jy dit eers visueel verstaan, word dit ʼn onvergelyklike en lewegewende reis deur Van Gogh se tragiese bestaan wat geëindig het in sy skynbare selfmoord. Die rolprent vra: was dit werklik selfmoord?

Dit skenk nie soveel aandag aan die berugte insident toe hy sy oor afgesny het nie, maar konsentreer eerder om die wyse waarop hy misken en emosioneel mishandel is, maar laat ook reg geskied aan sy talle helder en lewendige skilderye waarvan daar net een in sy leeftyd verkoop is.

Uiteraard is die dialoog eksposisioneel, met ander woorde mense praat oor wat met Van Gogh gebeur het in sy verlede en wie hy was. Min gebeur dus, maar baie inligting word deur middel van dialoog en vertellings gegee.

As jy ʼn Van Gogh-bewonderaar is en afdrukke van sy werke jou aantekeningboeke of mure versier, sal jy hierdie unieke rolprent, gedeeltelik geanimeer, nooit vergeet nie. Slegs aanbeveel vir kunsfoendies, maar ook vir mense wat meer van Van Gogh se tragiese lewe wil weet.

Leon van Nierop resenseer weekliks rolprente soos hierdie een op kamera op sy Facebook-blad. Klik op hierdie skakel vir resensies oor rolprente met lokprente en interessante feite.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

JC ·

Sal seker nooit op DVD beskikbaar wees nie. Dit is slegs by Cinema Nouveau van Ster Kinekor, en begin eers vanaf 23 Februarie 2018 te wys.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.