Leon van Nierop se resensie: Made In Italy

MADE IN ITALY                    7/10
Met Liam Neeson en Micheál Richardson
Regisseur: James D’Arcy

Wie was al in Toskane? Wel, met die einde van vlak 1 wat ons moontlik een van die dae in die gesig mag staar, is daardie moontlikheid nie so vergesog as wat dit mag klink nie!

Maar tot daardie blye dag aanbreek, kan jy gerus op die silwerdoek gaan rondkerjakker saam met drie van die mooiste mense op die silwerdoek vandag. Jy kry dus nie net asemrowende uitsigte oor lang, regop bome, geel en rooi blomme en lippe-aflek-restaurante nie, maar jy maak kennis met Liam Neeson, swierig en manlik-aantreklik in sy wyse grysheid, sy vleispaleis-seun, Micheál Richardson, en die fraaie eienares van ʼn Italiaanse restaurant, so mooi jy wil haar raam en ophang.

Hierdie driehoek lei nie net tot watertand pastas vol eksotiese bestanddele nie, maar ook tot … ja, reg geraai, romanse wat selfs die regop bome laat knak! En meer as die tortelduiwe in die omgewing hef hoë liefdesnote aan.

Die storie is eenvoudig. Die pa en seun is vervreem, want die ma is oorlede. Haar prentjiemooie huis in Toskane moet verkoop word. Kan Pa en seun ooreenkom om geskille by te lê, geraamtes uit kaste te laat tuimel en te begrawe? Jy ken nie die antwoord nie? Regtig nie? Nou ja, dan moet jy saam met die klompie in Italië gaan vakansie hou.

Made in Italy is vir almal wat nie hierdie baster-langnaweek kon weggaan nie. Maar gaan kyk dit in teaters, want dit word nou in bioskope vertoon. Dis ʼn fees!

Die fliek wys by Ster-Kinekor en Nu-Metro.

Leon van Nierop resenseer weekliks rolprente soos hierdie een op sy Facebook-blad. Besoek ook sy blad vir resensies oor rolprente met lokprente en interessante feite

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.