Leon van Nierop se resensie: Meerkat Maantuig

meerkat maantuigMEERKAT MAANTUIG 7/10   (***)
Met Anchen du Plessis en Rika Sennett
Regisseur: Hanneke Schutte

ʼn Mens moet kan droom. Baie kinders ontsnap van die nare werklikheid deur in ʼn fantasiewêreld te verdwaal. Die gevaarlikste is natuurlik wanneer hulle nie meer tussen droom en werklikheid kan onderskei nie. Of as illusie belangriker as die werklikheid word. Tog wil veral volwassenes hê dat kinders (dikwels verkeerdelik!) so lank as moontlik kinders moet bly, veral in die land waarin ons vandag leef en waar die werklikheid dikwels wreed en brutaal is.

In hierdie mooi en delikate sprokie, wat spesifiek kinders met verwondering sal vervul (kinders tussen 10 en 12 moet deur volwassenes vergesel word) raak ʼn dogtertjie bewus van die sogenaamde vloek van die De la Reys. Wanneer haar pa sterf, is sy seker dat die vloek na haar toe oorgedra is, daarom ontsnap sy in haar eie klein wêreldjie wat selfs vir Alice in Wonderland hoofbrekens sou gee, wanneer sy by haar oupa en ouma gaan woon. Gelukkig ontmoet sy vir klein Bhubesi, ʼn wonderlike kind wat haar verstaan en eweneens help om aan die fantasiewêreld te bou, dikwels letterlik!

Maar daar is ʼn kinkel in die kabel. Die seun is doof … Dit versterk eintlik hul vriendskap in die mistige woude wat eksoties deur die kinematograaf vasgevang word, want ʼn ware vriendskap, soos hierdie drama bewys, het nie woorde nodig nie. Vriendskap strek verby taal en oor horisonne tot so ver as in die ruimte. En dit is waaroor die pragtige Hanneke Schutte-rolprent gaan – oor om jou onmoontlike drome te verwesenlik, die dood te verstaan en aanvaar, troos by mekaar te vind maar bowenal vinnig groot te word en jou emosies onder die knie te kry sodat jy kan voortgaan met jou lewe.

Wat veral hier werk, is die feit dat vertroostende verbeelding geen grense ken nie, maar Hanneke Schutte beheer deurgaans klein Gideonette se verbeeldingswêreld met sensitiwiteit en ʼn deeglike begrip van wat kindwees behels en beteken. Ook die skade wat die werklikheid kan aanrig.

Nog een van die sterre van hierdie meelewende kindersprokie is die kunsregie deur die briljante Waldemar Coetsee wat onder andere vir die dekor en stelinkleding van Faan se trein verantwoordelik was. Die maantuig wat die kinders bou is deur hom ontwerp en vervolmaak, en dit gee vlerke aan enige verbeelding.

Pragtig en in die kol as jy jou kinders na kindervermaak wil stuur wat meer om die lyf het as ʼn voorspelbare kinderstorie.

Meerkat Maantuig wys vanaf 16 Maart by Ster-Kinekor en Nu-Metro

Leon van Nierop resenseer weekliks rolprente soos hierdie een op sy Facebook-blad. Besoek ook sy blad vir resensies oor rolprente met lokprente en interessante feite.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.