Leon van Nierop se resensie: Meisies wat fluit

Meisies wat fluit ***
Met Leandie du Randt en Stiaan Smith
Regisseur: Johan Cronjé

Hierdie liefdesverhaal is ʼn wilde perd van ʼn ander kleur. Dis rof en draai geen (woord- of seks-) doekies om nie. Voornemende kykers moet gewaarsku word teen kru, maar gemotiveerde swetsery en vloekery asook erotiese sekstonele.

ʼn Man en ’n meisie wil skei. Maar is dit so maklik om sommer net vir mekaar te groet, alles om die helfte te verdeel en voort te gaan met ander mense in jou lewe? Waar pas liefde en gehegtheid aan mekaar in die prentjie?

Dikwels is ʼn egpaar met ʼn bloedige naelstring aanmekaar vasgebind, en dit is wat met Sofia en Henk gebeur. Hulle kan nie saam met mekaar lewe nie, maar ook nie sonder mekaar nie. Hulle baklei aanhoudend, maak mekaar seer, vloek mekaar op die kruuste wyse denkbaar uit, maar bly verlief op mekaar. Dit is liefde met ʼn vitrioel-gevoel hierdie. En enigiemand wat al ooit deur ʼn bloedige egskeiding geworstel het, sal verstaan en veral identifiseer met die pyn, verwyte en rusies.

Beide Leandie du Randt, ʼn staatmaker gesaghebbende aktrise, en Stiaan Smith, wat ʼn mens deesdae baie gereeld sien, veral in dié soort rolle, is uitstekend en daar is ʼn sinergie tussen hulle wat stuit vir niks.

Omgord jou lendene vir hierdie uitdagende, strawwe en rowwe verhaal oor egskeiding. En ons almal weet: dit kan net op een manier eindig…

Leon van Nierop resenseer weekliks rolprente soos hierdie een op sy Facebook-blad. Besoek ook sy blad vir resensies oor rolprente met lokprente en interessante feite

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.