Leon van Nierop se resensie: Mile 22

Mile 22     * (4/10)   
Met Mark Wahlberg en Iko Uwais
Regisseur: Peter Berg

Dit is ironies dat hierdie stukkie geweldpornografie in dieselfde week as die Ellen Pakkies-storie uitgereik word, want als wat Pakkies as film reg doen, doen Mile 22 verkeerd. Dit is ʼn gruwelike sameflansing van die verheerliking van geweld. Om jouself besig te hou: tel bietjie hoeveel handgranaat- en bomonploffings daar is waarin tientalle mense sinneloos opgeblaas word. Dit word op so ʼn cool, onbetrokke manier gedoen, dat ʼn mens jou skouers optrek, wonder wat jy vir aandete gaan geniet en dan verder koes vir die wilde-woeste redigering van geweld waar geen skoot langer as ses sekondes duur nie.

Mark Wahlberg vertolk die rol van ʼn Amerikaanse intelligensie-offisier wat ʼn geheimsinnige agent, goed gespeel deur Iko Uwais, na ʼn vliegtuig moet vergesel vanwaar hy dan sal vertrek, maar terselfdertyd ʼn kode gee wat Amerika sal red. Slegs sy gevegstonele lig die rolprent uit sy moeras van ongemotiveerde en verglansde geweldtonele, so buitensporig, die bloed spat tot in jou skoot.

Mense wat gewelddadige videospeletjies speel of dink geweldrolprente is byderwets en ontsnappingsvermaak, mag voel dat die rolprent oormatig aangeval word. Maar dit het dalk nou tyd geword dat die uitbeeld van geweld meer sosiaal verantwoordelik moet gebeur en nie net as versiersuiker moet dien oor ʼn yl storietjie met min oorspronklikheid nie. En Mark Wahlberg se ongeërgde vertolking van ʼn skynbaar psigopatiese man (die verskoning is dat hy bipolêr is) is seker een van die mees onverantwoordelike karakters van die jaar.

Wees baie versigtig vir hierdie oorweldigende opkikkering van geweld en die moord op mense. Net as jy meer verslaaf is aan gewelddadige rolprente as aan jou daaglikse fietsry of gimnasium-oefeninge.

Mile 22 wys vanaf 7 September by SterKinekor en NuMetro.

Leon van Nierop resenseer weekliks rolprente soos hierdie een op sy Facebook-blad. Besoek ook sy blad vir resensies oor rolprente met lokprente en interessante feite.

*Let wel: die ouderdomsbeperking vir die fliek is 16 en die volgende lokprent is dus ook nie geskik vir persone jonger as 16 nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.