Leon van Nierop se resensie: My Cousin Rachel 

Met Rachel Weisz en Sam Claflin
Regisseur: Roger Michell

Baie mense maak die fout om te dink dat hierdie rolprent slegs vir vroue geskik is, veral omdat dit net ná Vrouedag uitgereik word. Niks kan verder van die waarheid wees nie. Volwassenes (en selfs jonger lesers) sal dit geniet. Dit is gegrond op Daphne du Maurier se klassieke roman met dieselfde titel, en het kykers betower sedert dit in 1951 die eerste keer uitgereik is.

Dit gaan oor Phillip (hy kry nooit ʼn van nie) wat deur sy geliefde oom grootgemaak is nadat sy ouers sterf. Hy raak later onafhanklik, net om te verneem dat sy oom ernstig siek geword het, en dat hy Rachel daarvan verdink dat sy hom vergiftig. Rachel daag uiteindelik by Phillip op, maar van meet af raak hy op hierdie gehate vrou verlief – die vrou wat hy van moord op sy oom verdink. Maar is sy ʼn engel of ʼn wolf in skaapsklere?

Die donker, onderspeelde atmosfeer, die grou huis vol skaduwees en geheime, en die skoonheid en sjarme van Rachel dryf die rolprent na een van die tergendste geheime in ʼn rolprent vanjaar. Jy sal lank na die tyd nog wonder en gis oor wat werklik gebeur het.

Die herskepping van die periode is uitstekend, maar dit is die atmosfeer van agterdog, neurose en uiteindelik liefde wat ʼn mens die langste bybly. Hoe die kyker reageer teenoor Rachel is eintlik hier belangrik. Raak jy ook verlief op haar? Sien jy deur haar of is sy werklik die engel wat sy voorgee om te wees? Die regisseur speel kat-en-muis met die gehoor en gee leidrade (sommige dalk vals?) wat ʼn mens aan die raai hou tot aan die einde.

Gaan kyk gerus hierna. Dit wys op ʼn beperkte kringloop, maar jy sal dit nie vergeet nie.

Sien die fliek by Nu-Metro of Ster-Kinekor.

Die lokprent vir My Cousin Rachel:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.