Leon van Nierop se resensie: My Octopus Teacher

My Octopus Teacher

My Octopus Teacher     10/10
Met Craig Foster
Regisseurs: Pippa Ehlrich en James Reed

Is jy sowaar een van die arme verloorder-kykers wat nog nie My Octopus Teacher op Netflix ervaar het en bedwelm is daardeur nie? Hoekom nie? Want jy vermoed dis ʼn droë dokumentêr oor visse? Niks kan verder van die dikkop-waarheid wees nie! Hierdie lewensveranderende dokumentêr verryk jou lewe. Daarsonder is jy arm, en dis nie sommer kletspraatjies nie. Jy sal dit nooit vergeet nie.

Dis gegrond op die ware verhaal van Craig Foster wat vir maande lank in die see saam met ʼn seekat rondbaljaar het. Maar dis nie sommer so ʼn seekat nie! Hierdie kreatuur met die wonder-tentakels het jou waarlikwaar ʼn verhouding met die wyse grysbaard-duiker begin. Aanvanklik was hulle lugtig vir mekaar, maar soos dié twee agterdog agter die alge versteek het en vooroordele met die branders laat uitspoel het, het hulle maats geword.

Wat die dokumentêr so uniek maak, is omdat dit ongeforseerd is en so gemaklik verloop soos om gouestroop uit daardie groen leeu-blik te lek. Elke toneel neem die ware verhaal in ʼn ander rigting en verduidelik hoe hierdie verruklike vriendskap ontstaan het en wat die duiker en die seekat bymekaar geleer het. Die fotografie is so helder en duidelik, dat jy saam met die seekat en die duiker in die water baljaar. En tentakels was nog nooit so mooi nie.

Maar moenie die seekat (of die dokkie) onderskat nie. Dit is weergaloos meesleurend. Kyk net vir 5 minute daarna, en jy sal betower en gefassineer word. En ek het nog geen mens teëgekom wat dit nie beskryf het as ʼn asemrowende verrykende ervaring nie.

Geskik vir alle ouderdomme. Nou op Netflix met onderwatertonele wat jou asem sal wegslaan, en jou deur nuwe oë na seekatte, en onderwaterkreature, wat dalk nie so bekend is nie, sal laat kyk. En nuwe respek vir hulle sal gee. Onmisbaar.

Leon van Nierop resenseer weekliks rolprente soos hierdie een op sy Facebook-blad. Besoek ook sy blad vir resensies oor rolprente met lokprente en interessante feite

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.