Leon van Nierop se resensie: My Salinger Year

My Salinger Year  ****
Met Sigourney Weaver en Margaret Qually
Regisseur: Philippe Faradeau

Glad nie lus vir die taai toffieappel wat jeugreekse tans in jou mond druk nie? Dan sal hierdie rolprent, wat tans in fliekteaters wys, jou dalk bedwelm. Min mense het gaan kyk, dus as jy weer tyd in ʼn teater saam met ander wil deurbring en ʼn film saam geniet, al sit julle nou ook twee sitplekke uitmekaar, sal hierdie meisie se ervarings met die geniale skrywer J.D. Salinger jou fassineer.

Teen die tyd weet almal dat hy die klassieke roman The Catcher in the Rye geskryf het, een van die beste Amerikaanse romans nog, wat ʼn stem aan die jeug gegee het. Joanna, ʼn muisvaal meisietjie, kundig onderspeel deur Margaret Qually, moet dan sy bewonderaars se briewe ontvang en dadelik vernietig.

Die eksentrieke skrywer wil geen bewonderaarspos hê of ooit weer ʼn boek publiseer nie. Dit skeur haar hart om sy pos op te skeur. Maar tog raak sy betower met hom en sy kultuur, en wanneer iemand hom een dag gaan ontmoet, koekeloer sy om die hoek om te sien wat tussen die twee gebeur.

Dis ʼn gesofistikeerde kunsrolprent wat ʼn mens eintlik by Cinema Nouveau moet gaan kyk. Dis verruklik, verryk jou, is op ʼn baie beperkte smaak gerig en sal jou geloof in die mensdom weer herstel. Probeer dit nog vir oulaas by ʼn teater naby jou opspoor.

Leon van Nierop resenseer weekliks rolprente soos hierdie een op sy Facebook-blad. Besoek ook sy blad vir resensies oor rolprente met lokprente en interessante feite

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.