Leon van Nierop se resensie: My Son

My Son ****   (in teaters)
Met James McAvoy en Claire Foy
Regisseur: Christian Carion.

Daar is twee elemente wat hierdie menslike drama besonders maak. Die een is dat die oorspronklike regisseur die film tevore in Frans gemaak het, Mon garçon (2017), en nou na Skotland verskuif het om ʼn Engelse weergawe te maak. Die ander is dat hy baie skraps inligting vir sy hoofakteur, James McAvoy gegee het. Hy het byvoorbeeld selde vir hom gesê wat veral gedurende die tweede helfte van die film gaan gebeur, dus is die angs en dikwels paniek op die karakter se gesig werklik en nie toneelspel nie.

ʼn Skotse pa, wat op olieraffinaderye werk (McAvoy), keer inderhaas Skotland toe terug na sy eksvrou wanneer hul seuntjie vermis raak. Sy het ʼn verhouding met ʼn man aangeknoop van wie die McAvoy-karakter niks hou nie, en gou breek ʼn geveg uit. Maar dan kry die pa snuf in die neus en begin hy met ʼn ondersoek nadat die Skotse polisie verbied word om verder aan die soektog deel te neem.

Die laaste halfuur is ongelooflik spannend en sal jou jou sitplek se armleunings laat deurgrawe met jou naels. Niemand weet wat gaan gebeur nie, veral nie McAvoy nie, en die gebeure laat jou verbysterd en verstom. Gooi ook nie die beeldskone natuur weg nie. Skotland het lanklaas so aanloklik maar ook verraderlik gelyk.

Aanbeveel as jy na ʼn spannende en eg menslike drama soek oor die verdwyning van ʼn klein seuntjie.

Die fliek is by Ster-Kinekor en NuMetro te sien.

Leon van Nierop resenseer weekliks rolprente soos hierdie een op sy Facebook-blad. Besoek ook sy blad vir resensies oor rolprente met lokprente en interessante feite.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.