Leon van Nierop se resensie: No Time To Die

No Time To Die   ****
Met Daniel Craig en Ana de Armas
Regisseur: Cary Joji Fukunga

Jy gaan glad nie kry wat jy verwag nie. Vergeet van oormatige aksie, liefdestonele en ooglekkergoed. Hierdie Bond, die 25ste in die reeks, is baie meer ernstig en gedug, en besin oor Bond as mens met swakhede. Dit gaan ook oor sy verlede en wat in ander Bond-films met hom gebeur het en hom steeds bybly. Maar dit vier ook sy avonture, maar wys in geen onsekere terme nie daarop dat hy dikwels onverantwoordelik, brutaal en onverantwoordelik opgetree het.

Bond raak selfs verlief in dié fliek. Wie sal nie op die pragtige Léa Seydoux verlief raak nie? Maar daar is ʼn kinkel in die kabel, soos in die vele ander kabels in die film. Selde indien ooit het ʼn Bond-rolprent soveel verrassings gehad wat die storie in ʼn totale ander rigting stuur as wat jy verwag of sou wou hê.

Jy sal dikwels nie jou oë en ore glo nie, maar geen kinkel durf in ʼn resensie verklap word nie. Genoeg om te weet dat Bond te staan kom teen ʼn dominante skurk wat natuurlik weer die wêreld wil vernietig, maar Bond se persoonlike lewe, sy gewete en sy vermoeidheid daarmee om James Bond te wees tree sterk na vore en meng dikwels in die saak in. Die skurke soos Rami Malek en Christoph Waltz is ook nie so sterk en ongenaakbaar gedug soos in ander Bond-films nie, sou mense skurke met mekaar wou vergelyk.

Ana de Armas het ʼn komiese toneel in Kuba wat die rolprent soos ʼn vars somersbriesie tref, terwyl die kinematografie asemrowend is en die aksietonele gemotiveerd en doelgerig. Met ander woorde dit is nie net daar om aksie te verheerlik nie.

Onthou die fliek is lank (2 ure en 45 minute), het nie so baie aksie soos gewoonlik nie en is meer op fynproewers gerig as geharde Bond-aksieverslaafdes, aangesien die aksie baie skrapser is as gewoonlik. Maar wanneer dit gebeur, is dit indrukwekkend.

No Time to Die wys alleenlik in fliekteaters.

Die fliek is by Ster-Kinekor en NuMetro te sien.

Leon van Nierop resenseer weekliks rolprente soos hierdie een op sy Facebook-blad. Besoek ook sy blad vir resensies oor rolprente met lokprente en interessante feite.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.