Leon van Nierop se resensie: Once Upon a Time … in Hollywood

Once Upon a Time … in Hollywood ****
Met Brad Pitt en Leonardo DiCaprio
Regisseur: Quentin Tarantino

Die leidraad lê reeds in die titel. Hierdie is die woeste, vermetele en briljante Quentin Tarantino se ode aan ʼn goue era in Hollywood wat met die Sharon Tate-moorde in laat 1969 gesneuwel het. Hy gee sy weergawe van ʼn sprokies-Hollywood met pragtige meisies en macho-ouens wat nog in die ou Hollywood-stersisteem gewerk het en wie se slaaptydstorie nou bloedig geëindig het. Meer durf ʼn mens nie verklap sonder om die unieke hoek, waaruit Tarantino die gebeure bekyk, te bederf nie.

Gereelde fliekgangers, wat dol is op hardebaardflieks soos die destydse Sergio Leone-Western Once Upon a Time in the West (1968), waar die testosteroon uit fonteine spuit, kan hulle staal vir ʼn tradisionele gespot met die Wilde Weste-genre, ʼn aksieprent en ʼn pikswart komedie. ʼn Western-rolprentster, wie se gloriedae besig is om met die Hollywood-drein af te spoel, moet nou minderwaardige rolle speel om aan die lewe te bly. Leonardo DiCaprio is slonserig, oortuigend en bebaard-befoeterd in die rol. Brad Pitt speel ʼn waaghals, daardie onverskrokke kunstenaars wat tuimel, val en vuisslae trotseer wanneer hulle instaan vir die aantreklike held. Die rolprent tol soos ʼn tor om ʼn kers om die gegewe.

Die film word gepeper met treffers uit 1969, en verder versier met in-grappies, verwysings na Hollywood se goue era en die stoppelbaard-vriendskap tussen twee ware manne wat mekaar liewer het as die geld wat hulle uit hul fliekmanewales verdien. En tussenin beplan Charles Manson en sy kultusgroep-gebreinspoeldes ʼn gruwelmoord. Daarom loop die rolprent katvoet oor die waarheid, en is meer behep met styl en voorkoms as gehoorverwagtings.

Kortom: Dit is Quentin Tarantino soos jy hom ken en bewonder, mits jy die geweld en gruwelose eienaardige tonele kan verteer en in jou mou daarvoor kan grinnik. Alleenlik aanbeveel as jy elke Tarantino-rolprent wat al ooit gemaak is gesien het, en dit gemaklik kon hanteer en verwerk. Dan sal jy jou gate uit geniet om te probeer om hierdie rolprent in sy fliekkultuur in te pas.

Die fliek wys tans by SterKinekor en NuMetro

Leon van Nierop resenseer weekliks rolprente soos hierdie een op sy Facebook-blad. Besoek ook sy blad vir resensies oor rolprente met lokprente en interessante feite

Leon van Nierop

Meer oor die skrywer: Leon van Nierop

Leon van Nierop is ’n bekende radiopersoonlikheid, rolprentresensent, vryskutjoernalis, stemkunstenaar, skrywer van romans, radio- en TV-vervolgverhale soos Wolwedans in die skemer en Ballade vir ’n enkeling asook die draaiboeke van die rolprente geskoei op hierdie twee verhale. Hy was vier jaar lank hoof van die Rolprentakademie van die Tshwane-Universiteit van Tegnologie en tree dikwels as dosent en spreker oor rolprente op. Sy boek oor die geskiedenis van die Afrikaanse rolprenbedryf, Daar doer in die fliek, is verlede jaar uitgegee. Sy jongste romans, Sielsmokkelaar en Stralerjakkers, verskyn later vanjaar.

Deel van: Flieks

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae