Leon van Nierop se resensie: Posbus 1

POSBUS 1   ****
Met Carel Triegaardt en Charlie Beuguenon
Regisseur: Nico Scheepers

Oudword is nie vir sissies nie. Dit is die baie duidelike boodskap wat uitgespel word in hierdie klein juweel waarvan min mense weet, en wat nou op Showmax wys. Maar as jy hoegenaamd voel dat die langbome roep, of jy wonder hoe lank jou tydjie nog op hierdie planeet gaan voortduur, roep hierdie rolprent jou, en hy roep jou naam hard.

Dit waarsku aanvanklik dat oudword en eensaamheid hande vat. Hulle is vinkel en koljander. Maar moenie dink dat Posbus 1 neerdrukkend is nie. Allermins! Dit vertel die verhaal van ʼn tagtigjarige oubaas, briljant gespeel deur Carel Triegaardt, wie se vrou (die minsame Petru Wessels) sterf. Sy het altyd op ʼn stoel gesit met ʼn adres wat die ouman ontdek, en glo in Frystraat is. Hy voel dat die stoel na sy regmatige eienaar moet teruggaan, en vir die hele rolprent lank probeer hy om die eienaar op te spoor, stoel in die hand.

Wat die rolprent so merkwaardig maak, is omdat die ouman dwarsdeur die stad met die stoel in sy hande loop op soek na die adres. Hoe mense, veral kinders, teenoor hom reageer, en sy koppige vasberadenheid om die stoel ook sy laaste rusplekkie te gee, sal jou met deernis, ʼn traan by jou glimlag en hartseer vervul, maar tog ook inspireer. Die beeld van die ouman wat moeg word en sommer op die sypaadjie op die stoel gaan sit terwyl hy die sweet afvee op sy moeisame tog, sal jou lank bybly.

Al kyk jy net een film op Showmax vroeg vanjaar, sorg dat dit hierdie stukkie pragwerk is. Regisseur en skrywer Nico Scheepers moet geluk gewens word daarmee. Maar selfs jongmense sal iets daarin kry wat hulle ook sal aangryp. Voeg daarby onverwagse goeie spel van ʼn span uitstekende akteurs in kleiner rolle, en jy het jou vakansie-binne-‘n-vakansie in ʼn japtrap gekry!

Leon van Nierop resenseer weekliks rolprente soos hierdie een op sy Facebook-blad. Besoek ook sy blad vir resensies oor rolprente met lokprente en interessante feite

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.