Leon van Nierop se resensie: Ready Player One

Ready Player One     ****   (8/10)
Met Taye Sheridan en Olivia Cooke
Regisseur: Steven Spielberg

Hierdie resensie is vir enigiemand in wie se are viriele lewensenergie nog ernstig bruis en na ʼn veilige uitlaatklep soek. Dit maak nie saak of jy 14, 40 of 74 is nie. As jy dol is oor opwinding en jy, as ʼn wyse volwassene, nog steeds (skelm!) rekenaarspeletjies speel. Dis ook gerig op tieners wie se duime so oorontwikkel is van al die selfoondrukkery dat hulle wonder of dit nie binnekort gaan swel nie. Hierdie vrolike skynwerklikheid-kaperjolle is vir almal wat nog jonk van gees is en wat terugverlang na die dae van onbesonne jonk en onbesonne wees.

Net ʼn waarskuwing: die beelde is so oorweldigend, en die rondomtalie-gewoer-woer met die kamera so duiselingwekkend, dat jy dalk seesiek kan word. Daarom het die rolprent ʼn spesiale ouderdomsperk met die volgende waarskuwing: dit is nie geskik vir mense onder 13 nie (as gevolg van geweld) of vir enigiemand wat aan beweging- of flikkersensitiwiteit ly. Jy’t seker nooit gedink dat jy teen sulke dramatiese probleme gewaarsku gaan word as jy wil gaan fliek nie!

Die storie is nogal ingewikkeld. ʼn Jong man (Taye Sheridan) woon in 2044 in ʼn toekoms-stad waar die werklikheid so saai en selfs gevaarlik is, dat hy graag in ʼn skynwerklikheid ontsnap deur middel van ʼn 3D-konkoksie wat hy oor sy kop dra. Só ontdek hy dat die skepper van die Oasis-wêreld, waarin hy hom daagliks bevind en waar hy fantastiese avonture beleef, gesterf het. Die genie het drie sleutels aan sy rekenaarfoendie-dissipels nagelaat. Die persoon wat al drie eerste ontdek wen miljarde dollar. Maar nog belangriker: hy of sy erf al die kennis wat die uitvinder uitgedink het.

Die rekenaar-effekte is groter en meer oorweldigend as enigiets wat jy al tevore gesien het, want Steven Spielberg oortref homself hier. Hy swiep jou in ʼn orgie van klank en beelde op en verplaas jou na ʼn wêreld wat dalk, oor tien jaar, werklikheid kan word.

Ready Player One is opwindend, psigedelies, oordadig en kleurvol. Dit smokkel met jou kop en sintuie, maar die storie is net so belangrik as die spesiale effekte en mallemeule-pretparkrit. Het jy genoeg moed om by te hou?

Aanbeveel vir enigiemand wat van wetenskapfiksie hou en nie maklik verswelg raak deur spesiale effekte nie.

Leon van Nierop resenseer weekliks rolprente soos hierdie een op kamera wat op sy Facebook-blad. Besoek ook sy blad vir resensies oor rolprente met lokprente en interessante feite.

Leon van Nierop

Meer oor die skrywer: Leon van Nierop

Leon van Nierop is ’n bekende radiopersoonlikheid, rolprentresensent, vryskutjoernalis, stemkunstenaar, skrywer van romans, radio- en TV-vervolgverhale soos Wolwedans in die skemer en Ballade vir ’n enkeling asook die draaiboeke van die rolprente geskoei op hierdie twee verhale. Hy was vier jaar lank hoof van die Rolprentakademie van die Tshwane-Universiteit van Tegnologie en tree dikwels as dosent en spreker oor rolprente op. Sy boek oor die geskiedenis van die Afrikaanse rolprenbedryf, Daar doer in die fliek, is verlede jaar uitgegee. Sy jongste romans, Sielsmokkelaar en Stralerjakkers, verskyn later vanjaar.

Deel van: Flieks

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae