Leon van Nierop se resensie: Richard Says Goodbye

Richard Says Goodbye **   5/10
Met Johnny Depp en Rosemary DeWitt
Regisseur: Wayne Roberts

Waar, o waar is die dae toe ʼn rolprent met Johnny (Jack Sparrow) Depp in die hoofrol die loket sou geskud het? Vandag hoor jy skaars ʼn windjie wat gebreek word met ʼn hand voor die mond en ʼn “ekskuus” van die loket af. Depp se gloriedae is skynbaar verby, want vele van sy vorige rolprente, sedert hy sy lyf so verwaand op die Karibiese Eilande rondgeswaai het, het geld gemaak.

In hierdie droefgeestige verhaal verneem ʼn vuilbek professor dat hy binnekort gaan sterf. Hy het sy lewe tot dusver vermors en voel dus dat hy nou gestraf word vir sy ongeleefde bestaan. Boonop het sy vrou (die verrassend-effektiewe Rosemarie DeWitt) ʼn verhouding met ʼn vriend. Wat moet ʼn sterwende man dan ook nou doen?

Verlore tyd probeer inhaal! En alles doen wat hy homself tot dusver ontsê het. Daar is hier en daar ʼn interessante toneel wat jou uit jou sluimerslaap mag ruk, maar oor die algemeen verloor die rolprent woema vroeër as ʼn motor wat bult-af beweeg en sonder brandstof gaan staan.

Depp lyk verveeld met sy karakter lank voor die kyker belangstelling verloor wat die waarskuwingsligte vroegtydig laat flikker: hierdie is nie die soort fliek waarop jy sommer goedsmoeds geld uitgee nie. Dalk het die professor vir Hobbs en Shaw nodig om hom bietjie aan te moedig. Want die akteurs en regisseur se vere wen vroeg-vroeg reeds af.

Die fliek wys tans by SterKinekor en NuMetro

Leon van Nierop resenseer weekliks rolprente soos hierdie een op sy Facebook-blad. Besoek ook sy blad vir resensies oor rolprente met lokprente en interessante feite

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.