Leon van Nierop se resensie: Rocketman

Rocketman ****     (8/10)
Met Taron Egerton en Jamie Bell
Regisseur: Dexter Fletcher

Sing jy reeds saam? Candle in the Wind, Rocketman, Pinball Wizard, I guess that’s why they call it the Blues, I’m Still Standing. Ai, die lys hou net aan en heerlik aan! Maar hou ook in gedagte dat Elton John, gebore Reginald Kenneth Dwight, nie die maklikste mens was om oor die weg mee te kom of te bestuur nie. Hy was aan drank, dwelms (en inkopies!) verslaaf, en selfs sy beste vriende soos Bernie Taupin, uitmuntend gespeel deur Jamie Bell en wat baie van sy lirieke geskryf het, het kwaai deurgeloop.

Uiteindelik het Reggie, of dan Elton, besef dat hy op ʼn pad van selfvernietiging afstuur. Eers moes hy erken hy is gay, toe moes hy sy verslawings en humeur hanteer, en is na ʼn inrigting hiervoor gestuur. Hierna het hy as ʼn voller, ryper mens uitgekom wat met die liefde van sy lewe, David Furnish getrou en kinders aangeneem het. Van toe af het sy loopbaan weer op die regte spoor beland.

Hierdie flambojante rolprent spring-spring oor die belangrikste oomblikke in sy lewe. Hou in gedagte dat, nes met Freddie Mercury in Bohemian Rhapsody, geen regisseur reg kan laat geskied aan so ʼn vol lewe en loopbaan nie, daarom word net sekere oomblikke uitgesonder. Daar is ook nie so baie uitspattige musiektonele soos in Mercury se biografiese rolprent nie, maar genoeg om jou dalk uit volle bors te laat saamsing.

Jou kop moet oop wees, want Elton John het flambojante uitrustings gedra vol duiwelshorinkies, vere en verdieping-hoë platformskoene. Hy het boonop die klavier aangeval terwyl hy speel – alles om uiting en uitdrukking aan sy reusetalent te gee. Jy leef jou dus in die kleurvolle gebeure in, met uittreksels uit van sy bekendste treffers ingesluit, maar moenie ʼn lewensgetroue biografie verwag nie. Daar is bloot nie plek daarvoor nie.

Aanbeveel as jy ʼn Elton-John-groupie is en die man se talent bewonder en wonder hoe die skaam, teruggetrokke seuntjie een van die rykste en bekendste popsangers ter wêreld geword het. Aanbeveel as jy weet waarvoor jy jou inlaat.

Die fliek wys tans by SterKinekor en NuMetro

Leon van Nierop resenseer weekliks rolprente soos hierdie een op sy Facebook-blad. Besoek ook sy blad vir resensies oor rolprente met lokprente en interessante feite.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Valerie ·

Ietwat ongunstig . . . soos die “Bohemian Rhapsody” nonsens en ophemeling van walglikheid. Wat, volgens John wat met ‘n man “getroud” is, sou ‘n “rocket” beteken?
Vra maar net . . . so dink daaroor voordat julle dit verwyder.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.