Leon van Nierop se resensie: Spider-Man: Homecoming

Met Tom Holland, Michael Keaton en Robert Downey, Jr.
Regisseur: John Carr

Maak gereed vir ’n splinternuwe, opwindende Spider-Man vol streke. Alhoewel Tobey Maguire en veral Andrew Garfield uitstekende Spider-Man’s was, het die draaiboeke hulle so beswaard gemaak, dat ʼn mens die arme ouens eintlik jammer gekry het. Maar in die gedaante van die blink, nuwe jong ster Tom Holland, is Spider-Man blink gepoets, cool, vol streke en hormone, en gepla deur huiswerk en detensie. Die lewe ry hom bloots! Die vorige Spider-Man’s het nie tyd gehad om hulle aan al dié probleme te steur nie. Hulle was te besig om die planeet te red!

Maar kyk jy in die blink oë van die nuwe laitie, sien jy ʼn seun wat nog besig is om ʼn man te word. Wat iewers in die niemandsland van grootmens en kind wees gevange gehou word, en wat nie kan wag om groot te word nie. Maar hy geniet steeds die klein dramas rondom grootword.

In hierdie nuwe weergawe baklei hy teen die Vulture, humoristies gespeel deur Michael Keaton, wat beslis in sy mou vir die skurk gelag het terwyl hy die rol speel. Maar Spider-Man het darem self ʼn mentor wat hom bystaan: die gesaghebbende Iron Man wat ook al ʼn paar stelle met demoniese skurke afgetrap het en bly leef het. Net jammer Spider-Man het nie ook sy ystermondering aan nie! Al wat hy het, is ʼn rooi-en-blou-pakkie! En spinnerakke!

Die pakkie trek hy vol entoesiasme aan (waar hy dit in die skool van alle plekke wegsteek!) om hom dan vaartbelyn tussen die geboue te laat rondswaai het met ʼn uitbundigheid waaraan ons nie gewoond is nie. Dis eers later, wanneer hy besef wat alles op die spel is, en hoe magtig die Vulture is, dat hy afkom aarde toe – letterlik. Robert Downey, Jr. se spel is ook humoristies, maar raak later ernstig wanneer hy vir Spider-Man leer wat dit is om ʼn regte man te wees.

ʼn Mens maak darem nie Spidey se reis mee vandat ʼn radio-aktiewe spinnekop hom byt en hy deur die pynlike proses van transformasie gaan nie. Wanneer ons vir Spidey ontmoet, het hy vriende gemaak met ʼn skaam, lomp outjie, knap gespeel deur die onbekende Jacob Batalon as Ned. Hierdie vriendskap sal veral vir kinders baie beteken, want dit beteken jy kan ʼn bleeksiel en ʼn held wees, en jy hoef jou nie altyd te bekommer oor uiterlike voorkoms nie. Wat ʼn heerlike, lewegewende vriendskap!

Ouers hoef dus nie die kinders by die IMAX-teater af te laai en iewers gaan eet terwyl die kleingoed fliek nie. Gaan gerus saam. Dit is vol woema, pret, plesier, humor, avonture en spesiale effekte wat darem nie die rolprent verdwerg soos met die Avengers gebeur nie. Maar as jy nou regtig liewer na iets volwasse wil gaan kyk, Paris Can Wait, met Diane Lane, wat dalk nog in ʼn teater langsaan wys, kan aanbeveel word.

En ʼn mens sien uit om te sien wat met Tom Holland gaan gebeur. Na hierdie uitbundige en seunsagtige Spider-Man lê die toekoms oop voor hom!

Sien die fliek by Nu-Metro of Ster-Kinekor.

Leon van Nierop

Meer oor die skrywer: Leon van Nierop

Leon van Nierop is ’n bekende radiopersoonlikheid, rolprentresensent, vryskutjoernalis, stemkunstenaar, skrywer van romans, radio- en TV-vervolgverhale soos Wolwedans in die skemer en Ballade vir ’n enkeling asook die draaiboeke van die rolprente geskoei op hierdie twee verhale. Hy was vier jaar lank hoof van die Rolprentakademie van die Tshwane-Universiteit van Tegnologie en tree dikwels as dosent en spreker oor rolprente op. Sy boek oor die geskiedenis van die Afrikaanse rolprenbedryf, Daar doer in die fliek, is verlede jaar uitgegee. Sy jongste romans, Sielsmokkelaar en Stralerjakkers, verskyn later vanjaar.

Deel van: Flieks

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae