Leon van Nierop se resensie: Status Update

Met Ross Lynch en Olivia Holt
Regisseur: Scott Speer

So tussen al die reuse-lokettreffers soos Mary Poppins Returns (28 Desember), Bumblebee (21 Desember) en die boksfliek Creed 11 (tans in teaters) moet daar darem iets vir tieners, wie se skoolvakansies nou begin, ook wees. Soos die naam reeds verklap, speel hierdie tienerkapperjolle, Status Update, dikwels op die internet en selfs Facebook af, en gebruik dit WhatsApp as een van die sentrale temas en motiewe.

ʼn Vleispaleis (nuweling Ross Lynch wat as skermstut op baie tieners se rekenaars gebruik sal word!) voel nogal soos ʼn bleeksiel. Hy ontdek ʼn tower WhatsApp wat hom verander in wie hy ook al wil wees, blonde hare en al. Maar soos kindersprokies, waarin iemand drie wense kry en uiteindelik sy/haar laaste wens gebruik om weer te wees wie hulle oorspronklik was, leer die kitaarspelende Kyle Moore (Lynch) met die marionetlyf, dat hy homself moet aanvaar soos hy is. Lyfkontorsies op tafels in die kafeteria is oulik, maar nie genoeg nie!

Hy aanvaar later dat hy nie sy sogenaamde pelle moet probeer bevredig of beïndruk nie, maar getrou aan homself (en sy ouers) wees. Dan sal hy die meisie kry.

Alhoewel liggewig-vermaak wat hoofsaaklik op tieners gerig is, sal jy dalk ʼn suikerklontjie in jou hart voel smelt wanneer jy sien hoe laf en simpel tieners kan raak as hulle werklik verlief is. Haarjel en ure in die gim is nie genoeg nie! Om te probeer grootword is nie so lekker soos dit lyk nie!

In die kol vir tieners wat al so moeg vir hul eie fone geword het, dat hulle vir ʼn slaggie op iemand anders s’n wil speel!

Die fliek vertoon tans by SterKinekor

Leon van Nierop resenseer weekliks rolprente soos hierdie een op sy Facebook-blad. Besoek ook sy blad vir resensies oor rolprente met lokprente en interessante feite.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.