Leon van Nierop se resensie: Strangers you know

Strangers you know  ****   
Met Joey en Anisha van Niekerk
Regisseur: Willem Grobler

Jy slaan dagblaaie oop, lees op sosiale media daarvan en hoor mense in gesprekke oorbluf daarna verwys. Maar niks kan jou voorberei op die nuwe dokumentêr wat Sondagaand 27 Junie op M-Net begin het nie: Strangers you know. Hierdie 8-episode-reeks handel oor die mees berugte moorde wat nog op vroue in Suid-Afrika gepleeg is. Dis met dodelike presiesheid aanmekaargesit.

In die eerste episode sien ons hoe twee meisies, Joey en Anisha van Niekerk, in ʼn lokval gelei en toe vermoor is. Hulle sou hul kleinhoewe verkoop het. Maar die meesterbrein agter die moord, Koos Strydom, het nie die geld gehad om die kleinhoewe te koop nie en het die vroue gedwing om onder valse voorwendsels hul handtekeninge te gee. Daarna is hulle vermoor.

Die jong regisseur Willem Grobler laat hom glad nie verlei of voorsê deur die moderne tegnologie nie. Geen verteller, geen mooimaak van die feite wat aanleiding gee tot die moord nie, geen sensasionalisering van feite nie en ook nie ʼn dramatisering daarvan nie.

Familielede, lede van die gemeenskap en diegene wat direk of indirek betrokke was, praat oopkop oor wat gebeur het. En dit is hierdie byna hardhandige, onemosionele saaklikheid en knap kinematografie wat die reeks soos spelde deur jou oë laat steek. Dit is nie prikkelend of vermaaklik nie, maar wys agt verskillende moord-scenario’s in volgepakte episodes op ʼn strak, byna oorblufte, maar altyd beheersde wyse.

Wees gewaarsku, met sy beperking van niemand onder 18 nie is dit ʼn roof-afkrap-taai reeks wat met die Mooinooi-moorde begin en jou met elke episode dieper in die kop van moordenaars intrek. Jy moet hare op jou tande hê vir Strangers you know.

Die reeks is Sondagaande om 20:00 op M-Net op DStv-kanaal 101 te sien. Klik hier om meer te lees.

Leon van Nierop resenseer weekliks rolprente soos hierdie een op sy Facebook-blad. Besoek ook sy blad vir resensies oor rolprente met lokprente en interessante feite

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.