Leon van Nierop se resensie: Tenet

Leon van Nierop by Mall of Africa (Foto verskaf)

Tenet ***
Met Robert Pattinson en Elizabeth Debicki
Regisseur: Christopher Nolan

Almal verwag natuurlik dat ʼn mens popelend moet juig en lofliedere uitbasuin oor Christopher Nolan se jongste film wat hy teruggehou het gedurende die Covid-19-pandemie-grendelgreep. Hy het koppig volgehou het dat dit in fliekteaters sál en moet wys. Die goeie nuus is dat teaters in Suid-Afrika weer heropen het (Ster-Kinekor dwarsdeur die week, Nu Metro slegs Vrydae, Saterdae en Sondae met sosiale afstande wat gehandhaaf moet word), maar was Tenet al die bohaai werd?

Nolan-entoesiaste kan nie uitgepraat raak oor sy The Dark Knight-reeks, of Inception en Dunkirk nie, maar Tenet voel na ʼn geniale regisseur wat slegs wrede en verwikkelde breinspeletjies met sy gehoor speel, kyk in hoeverre hy hulle kan verwar, en dan die skaakbord op hul vingers toeslaan. Kortliks gaan dit oor twee agente (een is “The Protagnonist”) wat moet keer dat die wêreld vernietig word. (Ja! Alweer…. Asof die wêreld nie tans op die rand van vernietiging staan nie.) Tyd word dan verwring sodat dit vorentoe en terugbeweeg, alles in een toneel tegelyk, wat bydra tot ʼn mens se brein wat brandblus en rook!

In daardie opsig kan jy na die ongelooflike tegnies-gevorderde skouspel sit en staar, mond oop, maar op ʼn Imax, 4D-X of ander groot skerms. Probeer bietjie sin maak uit die koeksister-storie en onderskei wie’s eintlik wie.

Boonop voel ʼn mens nie werklik aangetrokke tot een van die mense nie, behalwe miskien mej. Debicki, want die manne is macho, grof, voortvarend en hardloop deurgaans weg van ontploffings af. Jy mis ʼn storie waarby jy kan aanklank vind en wat jou opswiep in die rondomtalie-tydformule waaraan die fliek jou onderwerp. Maar andersins voel die gehoor skoon apaties teenoor al die tegnologiese gespog wat $200 miljoen gekos het. Dis ʼn sirkus vir die oë.

Net aanbeveel as jy dink Christopher Nolan is die koelste regisseur sedert Stanley Kubrick, maar maak jou gereed vir ʼn taai sit en brein-toertjies wat hoë eise aan selfs die hoogste I.K. sal stel.

Die fliek wys by Ster-Kinekor en Nu-Metro.

Leon van Nierop resenseer weekliks rolprente soos hierdie een op sy Facebook-blad. Besoek ook sy blad vir resensies oor rolprente met lokprente en interessante feite

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jeandre ·

Baie mense het ook nie Interstellar verstaan nie, die Nolan broers is maar net op ‘n ander vlak.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.