Leon van Nierop se resensie: Terminator: Dark Fate

Terminator: Dark Fate **
Met Arnold Schwarzenegger en Linda Hamilton
Regisseur: Tim Miller

Nou ja, die nuus is bekend! Terminator: Dark Fate het geflop. Dit is te verstane dat dit nie die afgelope naweek te waffers in ons land gevaar het nie, want nie eers Arnie kon teen die Bokke kompeteer nie. Hulle het hom lag-lag kafgedraf. Maar selfs in Amerika het mense in hul miljoene tuisgebly. Die rede? Dieselfde storie kan net soveel keer oorvertel word voordat dit soos ‘n outydse grammofoon-plaat raak wat vasgehaak het.

‘n Mens wil eintlik saamneurie: “Die eerste vers was doemela! Doemela! Doemela!” en dit dan verander na: “Al die verse was doemela!” want ‘n garingdun storietjie, wat lood en brandstof lek sover dit teen die loket-bult uitsnork, herhaal dieselfde versie vir tot gekwordens toe. Niemand gee meer om of die terminators die arme meisietjie, wat moontlik ‘n revolusie teen die robotte kan lei, uitgewis gaan word of nie, want sy het omtrent soveel persoonlikheid as ‘n pap mango.

Verder is daar miljuisende ontploffings. In ‘n stadium begin die byklanke klink na laerskoolseuntjies wat op speelgoedgewere afgekom het, en net ra-ta-ta-ta! skree. Hier ‘n skoot, daar ‘n ontploffing, vir twee ure lank! Ag nee wat, selfs nie eers Terminator-verslaafdes is in so ‘n vergewende springmielie-koma dat hulle vir ʼn koeël gaan koes nie. En, in elk geval, die terminators kan nie sterf nie, want dit maak nie saak of jy ʼn atoombom op hulle gooi nie, hulle smelt net weer saam en pomp opnuut loodbloed op ons skote uit.

En moenie die vervelige mense vergeet nie. Ons vermoed vroeg dat die vroue ongeskonde daarvan gaan afkom. Nou besef selfs ʼn suur resensent dat die heldinne (en ʼn held of twee) beslis nie in die stof gaan byt nie. Maar hoe dikwels kan iemand teen ʼn staalmuur of rots gegooi word en nie sy/haar rug breek nie? Met soveel onsterflike helde en antagoniste wat net kaboemielies skiet, wie gee om wat met hulle gebeur? Tien sekondes van die Wêreldbeker was meer pakkend as die hele Terminator: Dark Fate saam.

Jammer, maar hierdie reeks het uitgerafel. Dit is die verveligste rolprent van die jaar!

Die fliek wys tans by SterKinekor en NuMetro

Leon van Nierop resenseer weekliks rolprente soos hierdie een op sy Facebook-blad. Besoek ook sy blad vir resensies oor rolprente met lokprente en interessante feite

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Zaks ·

Nope. Is n liberale film. Kyk net na “cast”. So bly ek het ontsnap na Trump se eye opening media van nuus en vermaak. My geld raak net meer en meer.

anton ·

Vir een of ander rede oor die jare heen, as Leon n film n swak punt/telling gee, het ek dit gewoonteik geniet en die wat hy baie beter punte gee, nie so baie na my smaak nie.
Seker maar net te doen met waarvan party mense hou en ander nie.
Terloops, ek wonder hoeveel mense onthou nog die radio program in die 80″s toe hy Sondae aande die nuutste films se tema musiek gespeel het?
Het dit nooit een Sondag misgeloop nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.