Leon van Nierop se resensie: The Cook of Castamar

The Cook of Castamar (La Cocinera de Castamar) ***
Met Michelle Jenner en Hugo Silva
Skepper: Tatiana Rodriguez

Lesers wat in iets meer gesofistikeerd en uitdagends as sepiestories belangstel, sal verbaas wees hoe vinnig hulle onder die invloed gaan kom van hierdie rare Spaanse reeks. Moenie bekommerd wees as jy nie van subtitels hou nie. Die reeks is in Engels oorgeklank.

ʼn Pragtige sjef wat aan agorafobie ly, word in ʼn edelman se huis ingeneem om spesiale disse voor te berei, maar sy het ʼn vrees vir oop ruimtes en kan glad nie na buite gaan nie. Alles loop verkeerd wanneer die Spaanse koning ʼn gek van homself maak en die koningshuis in die skande steek gedurende ʼn ete wat sy voorberei het, maar sy red die aand met haar spesiale disse. Tog is daar duistere magte wat haar nie alleen wil ontmasker nie, maar ook van haar dienste ontslae wil raak.

Wat hierdie reeks anders maak as die gewone dramas wat jy dikwels stroom, is die vreemde plek waar dit afspeel (ʼn herehuis in Spanje vol skandes en drama), die unieke storie (ʼn sjef wat sulke lekker disse voorberei dat sy mense om haar pinkie draai) en die spanning tussen die koningshuis en die edelman wat die huis/paleis besit, maar nie weer in die regering wil diens doen nie.

Dinge beweeg vinnig en onverwags. Hier is geen langdradige gesnater oor verf wat aan die muur droog word nie, maar mense wat mekaar wantrou, wat selfsugtige motiewe het en wat elkeen daar is vir hul eie gewin. En lesers wat dink dit klink alles net te outyds en formeel, die storie sal jou gou oorrompel. Vol onverwagse wendings, ʼn blootstelling aan ʼn vreemde kultuur en karakters wat streng optree volgens vroeg 18e eeuse reëls. Jou brein moet dus in eerste rat wees.

Probeer dit. Dis op Netflix (in Engels).

Leon van Nierop resenseer weekliks rolprente soos hierdie een op sy Facebook-blad. Besoek ook sy blad vir resensies oor rolprente met lokprente en interessante feite.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.