Leon van Nierop se resensie: The Defeated

The Defeated ****
Met Taylor Kitsch en Logan Marshall-Green
Regisseur: Verskeie

Net toe ʼn mens vermoed het daar bly geen vars storie oor om oor die Tweede Wêreldoorlog te vertel nie, duik The Defeated op. As jy ʼn liefhebber van oorlogflieks is, veral oor die nagevolge van die Tweede Wêreldoorlog, is hierdie een ʼn boerpotwenner vir jou. Want alhoewel daar sepie-elemente betrokke is (melodrama, buite-egtelike verhoudings, baie trane, emosie) bly dit getrou aan die droefenis wat veral Berlyners moes deurmaak nadat die oorlog geëindig het en Hitler selfdood gepleeg het.

Met ʼn top-rolverdeling (die onderskatte Taylor Kitsch was nog nooit beter nie), word daar gefokus op ʼn stad wat in vier geskeur is. Berlyn is nou soos ʼn bees se agterkwart in vier gemerk. Een deel behoort aan Frankryk, die ander aan Rusland, die derde deel aan Amerika en dan is daar ʼn deel wat Brittanje opeis. In die middel hiervan is ʼn Amerikaanse polisieman, wat niks met die militêre owerhede te doen het nie, en die verskeurde en verflenterde Duitse polisiemag moet help om orde in 1946 te skep. Maar veral ook om die gruwelmonster, bekend as die “Engelmaker” te ontmasker en te arresteer.

Die reeks beeld dan uit hoe hierdie groepie, wat beswaarlik kan oorleef tussen die wederstrewige Russe en verwaande Amerikaners, (laat staan nog die ander twee magte), probeer om wet en orde te handhaaf. Dit is amper soos die Wilde Weste, want skaduagtige figure sluip tussen die Russiese en Amerikaanse grense deur, die Russe martel mense om inligting te kry en karakters word sommer doodgeskiet indien hul paspoorte en “papiere” nie in orde is nie.

As jy dus na ʼn professionele, knap-geregisseerde en goed nagevorste reeks oor die nagevolge van die groot oorlog soek, weet net dit gaan nie hier noodwendig oor die terreur teen die Joodse bevolking nie, maar oor ʼn Amerikaner wat die Duitse polisiemag probeer help. In daardie opsig word dit aanbeveel. Op Netflix.

Leon van Nierop resenseer weekliks rolprente soos hierdie een op sy Facebook-blad. Besoek ook sy blad vir resensies oor rolprente met lokprente en interessante feite.

 

 

Leon van Nierop

Meer oor die skrywer: Leon van Nierop

Leon van Nierop is ’n bekende radiopersoonlikheid, rolprentresensent, vryskutjoernalis, stemkunstenaar, skrywer van romans, radio- en TV-vervolgverhale soos Wolwedans in die skemer en Ballade vir ’n enkeling asook die draaiboeke van die rolprente geskoei op hierdie twee verhale. Hy was vier jaar lank hoof van die Rolprentakademie van die Tshwane-Universiteit van Tegnologie en tree dikwels as dosent en spreker oor rolprente op. Hy het 'n Akademie Erepenning ontvang vir sy boek oor die geskiedenis van die Afrikaanse rolprentbedryf, Daar doer in die fliek. Sy jongste boek Bloedsuier is op die rakke en hy skryf tans aan 'n nuwe roman. Sy vorige twee romans, Katelknaap (vertaal as Toy Boy) is in 2018 uitgegee. Hy skryf ook aan Maroela se radiodrama wat binnekort die lig sien, Briekaandraai,

Deel van: Flieks

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.