Leon van Nierop se resensie: The Disaster Artist

The Disaster Artist     ****
Met James Franco en Dave Franco
Regisseur: James Franco

As jy nie deur die sweep van die Fifty Shades-beweging raak gepiets wil word nie (en baie mense gaan skelm kyk al is dit in kopdoek en sonbril, jy wéét jy gaan!) is hierdie dalk ʼn effense veiliger opsie, alhoewel daar ook ʼn bietjie naaktheid voorkom, maar dan komiese naaktheid in die Charlie Chaplin-tradisie, en dit word deur James Franco gedoen. Let wel daar is ook sterk taalgebruik.

Al ooit van Tommy Wiseau gehoor? Toemaar, ek ook nie. Hy het die kampioen van patetiese flieks gemaak toe sy The Room in 2003 uitgereik is. Nee, nie die Oscarwennende Room van Brie Larson nie!

Waaroor gaan dit? Onmoontlik om te sê, want daar was nie ʼn draaiboek nie. Akteurs is dikwels in die middel van tonele vervang (dus speel twee akteurs soms dieselfde rol), aktrises het met verbasing kennis geneem wat vandag alles met hul karakters gaan gebeur, (iemand kry kanker wat dan in die volgende toneel verdwyn) en regie het bestaan uit: “Aksie!” en “Sny!”, gegee deur ʼn amateur wat nie ʼn benul gehad het van hoe ʼn goeie rolprent lyk nie. “Draai die kamera in die rigting van die beweging en die aksie en probeer so veel moontlik op film vasvang!” was skynbaar sy leuse. En die akteurs het kliphard probeer om nie te lag nie! ʼn Amateuragtige gesnater was nog nooit so snaaks nie.

Ons in Suid-Afrika het die reputasie dat sommige van ons flieks, veral gedurende die tagtigerjare, maar eina was, (en tog ʼn nostalgiese gevoel opwek) maar niks kan by The Room kom nie waarvan die ware storie in The Disaster Artist vertel word. Dit wys dat selfs die mees afgryslike swak droom werklikheid kan word, en dat lomp en swak soms so snaaks kan wees, dat dit onbewustelik in “kuns” kan verander. Want na 15 jaar word hierdie rolprent steeds op middernagfeeste in Amerika vertoon waar mense hulle slap lag en letterlik in die paadjies rond rol van die histerie.

James Franco het die gebeure agter die skerms gedramatiseer en met ʼn sterk satiriese aanslag, maar tog ook ʼn dodelike erns verfilm, wat dit nog snaakser maak. Moet nooit probéér snaaks wees nie, het hy geleer, en hier werk dit uitstekend! Jy sal nie glo wat jy sien nie en jy sal dalk harder lag as wat jy die afgelope paar weke vir jou kredietkaartrekening gebulder het.

Onthou, dis eksentriek, uitdagend, soms kru, en anders as die komedies waaraan jy gewoond is. Dis nie Molly & Wors nie!

Leon van Nierop resenseer weekliks rolprente soos hierdie een op kamera op sy Facebook-blad. Klik op hierdie skakel vir resensies oor rolprente met lokprente en interessante feite.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

JC ·

“Hollyweird”, met hul verstikkende polities korrekte voorskriftelikheid en skynheiligheid (asof die feit dat hulle miljoen verdien hulle die reg gee om aan die gewone “sukkelende” man op straat- met ‘n familie en alledaagse sorge- en wat nie die luuksheid het om soos die “akteurs” hul besig te hou met liberale voorskriftelikheid nie-VOOR TE SKRYF en hulle DIE reg gee) is dood.

Waarom dan nog resensies lewer op iets wat mense nie meer kyk nie?

Die probleem is dat hul skynbaar begin het met die ge-politiekery en hulself nie meer kan help nie-EN NIEMAND GAAN HULLE OOIT WEER DAARVOOR VERGEWE NIE.

Hollywood en die film industrie is DOOD.

Grote genade ·

Ek stem 101% saam met Leon. Hierdie is nou rerig ‘n pot dit-en-dat. Ek het nog nooit dwelms gebruik nie maar vir my lyk die hoofakteur gerook. Sal die fliek glad nie gaan kyk nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.