Leon van Nierop se resensie: The English Game

THE ENGLISH GAME    ***
Met Edward Holcroft en Kevin Guthrie
Skepper: Julian Fellowes en andere

Die reklame vir hierdie gesofistikeerde Britse reeks is bietjie misleidend. ʼn Mens vermoed dat die hele reeks gaan oor die ontstaan van voetbal (later sokker) in Skotland, en watter drama alles agter die skerms voltrek het. Episode 1 gaan wel oor een van die eerste sokkerwedstryde wat gespeel is en hoe die Old Etonians die spel as hul eie geklassifiseer het. Maar daarna raak dit meer behep met een van die sokkerspelers (Edward Holcroft) wie se vrou nie kan kinders hê nie, dan wil hulle ʼn kind aanneem, en konsentreer die reeks vir ʼn episode of wat daarop alvorens dit terugbeweeg na die sokkerspelers waarvan werkloses omgekoop word om hulle by die Old Etonians aan te sluit en die drama wat daarmee gepaard gaan.

Jy gaan in ʼn stadium vermoed dat jy na die stiefkind met ʼn sokkerbal van Downton Abbey kyk, want Julian Fellowes, een van die hoofskrywers, was die skepper van daardie trefferreeks. Maar uiteindelik vergaap ʼn mens jou aan die skoonheid van Skotland en hoe gesofistikeerde manne soos ware here sokker gespeel het. Van die rofheid en dikwels gewelddadige gevegte wat deesdae tussen spelers uitbreek, is daar min sprake.

Op Netflix.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.