The Favourite **** (8/10)
Met Olivia Colman en Rachel Weisz
Regisseur: Yorgos Lanthimos
Raak jy bietjie gefrustreerd wanneer die Oscars in Februarie uitgedeel word en jy nie kan saampraat nie want jy’t nog nie die vervlakste fliek gesien nie?! Hier is jou kans. The Favourite gaan dalk met ʼn hele korset vol Oscars wegstap, moontlik veral in die draaiboek, regie en spel-kategorieë, alhoewel Glenn Close hulle opdraande in The Wife gaan gee.
Hierdie komedie is bloedig donker en dikwels skokkend. Moenie Downton Abbey of ʼn waardige kostuumdrama verwag nie! Hier word met die Britse koningshuis gedurende die vroeg 18e eeu gespot dat die bloed spat en die hoepelrokke uitstaan. Dit gaan oor die berugte en befoeterde koningin Anne (Olivia Colman) wat die land probeer regeer het ten spyte van erge jig en ander pyne. Lady Sarah (ʼn onderduimse Rachel Weisz) het van agter die skerp troon saam met haar regeer en die meeste van die koningin se besluite beïnvloed.
Maar dan daag net so ʼn geslepe vrou, Abigail (Emma Stone), op. Sy speel die rol van ʼn kamermeisie wat meer doen as net potte uitgooi! En saam met Lady Sarah ding sy mee om die koningin se gunste tot dit in ʼn katteveg ontaard waar die naels op gesigte skerpgemaak word…
Die humor is wreed en soms venynig kwaai. Daar is seksuele tonele wat sommige mense kan skok, en die taalgebruik neem die stysel uit die hoepelrokke en die diamante uit die kroon! Jy is gewaarsku. Die swart komedie huiwer iewers tussen ʼn kunsrolprent en ʼn satire.
Vir ʼn uitgesoekte smaak.
Die fliek vertoon tans by SterKinekor en NuMetro
Leon van Nierop resenseer weekliks rolprente soos hierdie een op sy Facebook-blad. Besoek ook sy blad vir resensies oor rolprente met lokprente en interessante feite.
M M, kan ons asb meer gereeld n resensie van Leon kry?