Leon van Nierop se resensie: The Guernsey Literary and Potato Peel Pie Society

The Guernsey Literary and Potato Peel Pie Society  *** (7/10)
Met LilyJames en Glen Powell
Regisseur: Mike Newell

So dikwels kla mense: “Ek kan deesdae nie meer gaan fliek nie, want as daar nie ʼn klomp persoonlikheidlose en gespierde superhelde is wat mekaar uitmekaar slaan nie, wemel die rolprente van die kruuste taalgebruik denkbaar, om nie van brutale geweld te praat nie.” Wel, vandeesmaand is geen uitsondering nie. Daarom moet ʼn mens ver en hard soek vir iets wat in ʼn algemene smaak sal val en nie een van bogenoemde elemente bevat nie.

Hierdie rolprent is een van die min waarna die hele gesin kan kyk, Oupa en Ouma ingesluit, en wat niemand kan aanstoot gee of wat te intens raak nie.

Moenie dat die langdradige titel jou afsit nie. Dit is op die ware verhaal gegrond van ʼn joernalis wat hoor van ʼn klein gemeenskap op die platteland (die Guernsey-eiland om presies te wees) en wat ʼn vreemde storie het wat verdien om oorvertel te word. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog het die Nazi’s ʼn groep onskuldige mense op die eiland teëgekom wat “onwettig” daar rondgeloop het, en toe gevra word wie hulle is, het iemand gesê: “Ons is van die Guernsey Literary and Potato Peel Pie Society,” dus ʼn soort boekklub wat ook lekker pasteie maak! Hulle het vrygekom. (Terloops, die aartappelpastei was amper oneetbaar!)

Maar daar was ʼn kinkel in die storie wat ʼn mens nie hier kan verklap nie, en ʼn joernalis, die pragtige en baie talentvolle Lily James (wat tans so hoog skop in Mama Mia! Here we Go Again) het jare later hiervan gehoor en was vasbeslote om uit te vind wat regtig gebeur het.

Sy sit toe met pen en papier af en ontmoet natuurlik ʼn aantreklike jong man wat haar meer inligting kan gee, en ʼn romanse ontwikkel wat baie smaakliker is as aartappelskille.

Meer wil ʼn mens nie verklap nie, behalwe dat dit ʼn veilige, gehoorvriendelike en intieme rolprent is wat ʼn aandjie uit lekker opwindend sal laat verloop. Dit is verfrissend om van Brittanje se voorste akteurs (baie uit die TV-reeks Downton Abbey) te sien wat ander karakters speel as waaraan ʼn mens gewoond is.

Soepel, beheersd en bekoorlik.

The Guernsey Literary and Potato Peel Pie Society wys vanaf 9 Augustus by SterKinekor en NuMetro.

Leon van Nierop resenseer weekliks rolprente soos hierdie een op sy Facebook-blad. Besoek ook sy blad vir resensies oor rolprente met lokprente en interessante feite.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.