Leon van Nierop se resensie: The house with a clock in its walls

The house with a clock in its walls **   (5/10)
Met Cate Blanchett en Jack Black
Regisseur: Eli Roth

Ag nee wat! Hierdie is nou regtig 100 minute wat ʼn mens nooit weer sal terugkry nie. Hoekom op aarde Cate Blanchett besluit het om in hierdie rolprent te speel, is duister. Dalk wou sy bietjie af gehad het of was sy verveeld met ernstige, klassieke rolle? Of was sy lus vir donker komedie? Want selfs sy kan nie hierdie swart komedie red nie, waarin Jack Black oorspeel asof hy op ʼn kleuterpartytjie is!

Waaroor die storie gaan? Dit lê in die titel opgesluit. ʼn Weeskind (die verrassend-goeie Owen Vaccaro, sou ʼn mens na die res van die rolprent kyk) besoek sy oom (Jack Black) wat eintlik ook ’n towenaar is in ʼn huis wat deur spoke en ander rare kreature besoek word.

Maar daar is ʼn kinkel in die storie, en ook in die huis se mure. Daar is ʼn reuseklok wat die tyd meedoënloos aftik na die einde van die wêreld. Sal ons jong held dit kan keer?

Dit raak alles ʼn bietjie vervelig. Daar word te veel truuks uitgehaal en te min storie vertel. Daar kan net soveel pratende stoele en woeste poppe en horlosies wees voordat ʼn mens begin gaap. Ouers word ook gewaarsku dat, al is die fliek snaaks en dra dit ʼn beperking van niemand onder 10 nie (10-12 moet deur ʼn volwassene vergesel word) raak dit soms bietjie bloederig en skrikwekkend. Nie goeie kindervermaak nie!

Eli Roth is veral bekend vir die bloederige Hostel. Hy moes miskien daarby gebly het! Jammer, dit kan nie aanbeveel word nie.

Die fliek vertoon tans by SterKinekor en NuMetro

Leon van Nierop resenseer weekliks rolprente soos hierdie een op sy Facebook-blad. Besoek ook sy blad vir resensies oor rolprente met lokprente en interessante feite.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.