Leon van Nierop se resensie: The Lego Movie 2

The Lego Movie 2: The Second Part *** 7/10
Met die stemme van Chris Pratt en Elizabeth Banks
Regisseur: Mike Mitchell

Dit is dikwels maar moeilik om saam met die kroos deur ʼn animasiefliek te sit, en toets nie net jou geduld en uithouvermoë nie, maar ook jou ouerfliefde! Want pikkies reageer gewoonlik uitbundig in hierdie vervolg op die eerste baanbrekers-Lego-fliek, terwyl die springmielies en koeldrank in alle rigtings spat! Jy weet nie waarvoor om eintlik te koes nie – die spesiale effekte of die reaksie van die gehoor!

Emmet moet sy geliefde Lucy gaan red wanneer sy deur ʼn bose generaal na ʼn vyandige planeet ontvoer word. Hy ontmoet ʼn rare en donker vriend, Rex Dangervest (albei praat met Chris Pratt se stem) en Rex maak Emmet bewus van ʼn ander sy van sy persoonlikheid. Intussen reis die karakters natuurlik vrolik tussen planete en asteroïdes rond wat veral volwassenes darem in hul sitplekke sal hou omdat die spesiale effekte so indrukwekkend is.

Daar is baie in-grappies en danstonele om volwassenes te vermaak, maar die fliek is natuurlik vir die ou heel kleintjies gemaak wat redelik geboei sal word daardeur. Om die Lego-blokkies, waarmee hulle elke dag speel, skielik te sien lewe kry, is seker reeds die prys van ʼn toegangskaartjie werd. En daar is feitlik nie ʼn statiese oomblik in die fliek nie. Iets beweeg, sing of hol altyd.

Let net op die ouderdomsperk: Kinders tussen 7 en 9 moet deur ʼn volwassene vergesel word. Maar die fliek is veral op kinders bokant die ouderdom van 9 gerig wat hulleself gate uit behoort te geniet.

(Empire Entertainment)

Die fliek vertoon tans by SterKinekor en NuMetro

Leon van Nierop resenseer weekliks rolprente soos hierdie een op sy Facebook-blad. Besoek ook sy blad vir resensies oor rolprente met lokprente en interessante feite.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.