Leon van Nierop se resensie: The Man With The Iron Heart

Met Jason Clarke en Jack O’ Connell
Regisseur: Cédric Jimenez

Gewoonlik, in hierdie rubriek, word rolprente geresenseer wat gesinsvriendelik is. Maar dikwels moet ʼn mens ook na rateltaai flieks kyk wat die geskiedenis vanuit ʼn nuwe hoek benader, en ʼn skokkende kollig op gruwel-gebeure gooi. Hierdie rolprent val in daardie kategorie.

Daar is al seker meer ware verhale oor die Tweede Wêreldoorlog vertel as oor enige ander oorlog in die geskiedenis. Soos meeste van die ander, is hierdie een ook op die wrede en onnoembare waarheid gegrond, en laat ʼn mens opnuut twyfel aan “die innerlike goedheid van die mens” waaraan Anne Frank so sterk geglo het.

Lesers wat destyds Operation Daybreak gesien het, sal hierdie storie bekend vind, want dit word weer vertel.

In 1942 word twee Tsjeggiese mans, Jozef Gabik en Jan Kubis, lede van die Tsjeggiese weerstandsbeweging na Praag gestuur om een van die grootste monsters van die Tweede Wêreldoorlog, Reinhard Heydrich, te vermoor. Hy is beskryf as “Himmler se brein wat Heydrich genoem word” omdat hy die hoof van die SS Gestapo was asook ʼn ondersteuner van Hitler se “Final Solution.” Hy was gewetenloos en moontlik sosiopaties.

Die gruwels waaraan hy die Jode onderwerp het, en die wyse waarop die twee jong manne hom dopgehou het en om die lewe probeer bring het, vorm die sentrale tema van ʼn rolprent wat soms so spannend en ontsenuend word, dat ʼn mens beswaarlik daarna kan kyk. Maar dit is miskien goed om net weer te onthou wat destyds gebeur het, met die hoop en geloof dat dit nooit weer sal gebeur nie.

ʼn Waarskuwing: omdat die verhaal bekend is, weet baie lesers seker hoe dit eindig, dus is daardie laaste tonele veral hartverskeurend, maar word tog met soberheid en sonder enige vorm van sensasie uitgebeeld. Dit is veral Jack O’ Connell as een van die twee sluipmoordenaars wat uitgesonder moet word vir sy uitmuntende spel.

Jy sal ril en jou hand voor jou mond klap, maar jy sal ook heldeskap en onwrikbare geloof in reg en geregtigheid bewonder in hierdie dapper, strak, maar aangrypende oorlogsprent.

Wees gewaarsku: dit is wreed.

*Die fliek sal na verwagting op 17 November in Suid-Afrikaanse teaters vrygestel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.