Leon van Nierop se resensie: The Mummy

THE MUMMY
Met Tom Cruise en Russell Crowe
Regisseur: Alex Kurzman

Snaaks. ʼn Mens mis nogal vir Brendan Fraser as die avonturier wat na onbetaalbare skatte in die woestyn soek. Onthou julle hom nog van die 1999-weergawe van The Mummy waarin Arnold Vosloo so naam gemaak het. (Wat het van hom geword?) Nou tree die selfbewuste Tom Cruise hierin op. Die probleem is dat Cruise nie ʼn baie goeie akteur is nie en baie bewus van sy aantreklike voorkoms is. Jy kyk nie na ʼn karakter nie, maar na ʼn superblink rolprentster wat sy beste kant na die kamera toe draai en sy hemp uitpluk wanneer die regisseur: “‘Aksie!” skree. Hy is dalk die grootste probleem van die rolprent. Jy kyk teen Cruise vas.

Die storie is nie heeltemal so sleg soos buitelandse kritici die draaiboek afgemaak het nie. Hulle het die film soos hiënas wat op ʼn bok-karkas afkom uitmekaargeskeur.

In hierdie aksiekapperjolle ontwaak ʼn bose Egiptiese prinses (die effektiewe en beeldskone Sofia Boutella) uit ʼn sluimerslaap van honderde jare om weer haar heerskappy oor die wêreld en die doderyk te bevestig. Een kyk na Tom Cruise en sy besluit dat sy hom en sy sespak saam met haar die ewigheid wil invat.

Daar is lekker humor in die film, alhoewel Cruise nie die regte akteur is om reg aan die donker kwinkslae te laat geskied nie. Sy tydsberekening is hopeloos verkeerd. Nogtans is dit juis die humor wat die rolprent ʼn trappie bokant sy eweknieë laat styg, want soos gewoonlik in sulke avontuurprente is dit die grappies wat mense maak as hulle in die moeilikheid is, of die slim dialoog voordat hulle ʼn mummie terugstuur doderyk toe, wat die rolprent opwindend maak.

Jy moet dit egter in IMAX of ʼn 4D-X-teater sien waar die stoele ook deelneem aan die aksie om waarde vir jou geld te kry. Dis oppervlakkig en snaaks. Net as jy lekker wil laaglê.

Die fliek is tans by Ster-Kinekor en Nu-Metro te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Carel ·

Hoekom is hier so min van Leon se resensies op Maroelamedia? Hoop dit gaan nou meer op wees.

Fliekvlooi ·

Wat soek Tom Cruise in The Mummy?? Ag nee!! Hierdie akteurtjie moet regtig begin aftree!

Tanya Crouse ·

Ek hou van Leon se resensies. Kan werklik meer geplaas word. Asook van ander flieks. Ek wil graag ‘n ingeligte keuse maak van vlieks wat wys.

Kom Ons Boks ·

Waar is Brendan Fraser (akteurtjie) vandag? En waar is Tom Cruise (akteur) vandag?
Brendan het slegs 8x toekennings al gewen (1x nominasie vir sy 1999 Mummy) en Tom het nie minder as 46x toekennings al ingepalm. Of mens van Tom hou of nie, hy het ongekende “stay power” en Brendan eenvoudig nie. Laat ons nie appels met pynappels vergelyk nie. Ek kan nie wag om hierdie fliek te gaan kyk nie.

Fliekvlooi ·

Ek het nie eers Brendan Fraser se naam genoem nie. Daar is sekerlik ‘n ander akteur wat eerder as die oorbekende en nou ook al heel onbeminde Tom Cruise ingespan kon word vir die rol! Ek is heel teleurgesteld hoor!

Ai ·

Nee wat ek vermy Hollywood gemors so veel ek kan. Hulle het uit stories gehardloop en vertel nou dieselfde storie net op n ander manier. Die Nuwe weergawes is vol bose dinge en/of innuendos as mens verder kyk as al die spesiale effekte. Selfs die komedies en Disney Animasie rolprente is nie meer familie vriendlik nie. Ek kyk nou eerder films met Engelse subtitles.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.