Leon van Nierop se resensie: The Nutcracker and the Four Realms

The Nutcracker and the Four Realms    ** (5/10)    
Met Mackenzie Foy en Keira Knightley
Regisseurs: Lasse Halström en Joe Johnston

Net ingeval ma’s en dogters daardie 5/10 raaksien en verward is (want almal ken tog Die Neutekraker-ballet en dit is ʼn Kersfees-gunteling), verstaan net een ding duidelik: Die rolprent gebruik die storie, en Tjaikofsky se geniale musiek as uitgangspunt en afskopplek, maar daarna verdwaal die fliek bietjie in inkleurboekprentjies. Wees egter verseker: Ma’s en hul spruite, veral kleuters en tienerdogters, mag gek wees hieroor en die puntetoekenning geld nié vir hulle nie. Hulle sal dalk al dansend en singend uit die teater beweeg en vir al hul vriendinne sê om “asseblief te gaan kyk! maak nie saak wat watter suur resensent sê nie”.

Die probleem wat hiérdie resensent met die rolprent het, is dat dit pragtig lyk, maar daar is nie genoeg hart en warmte in nie. ʼn Mens kyk tegnies van buite af daarna. Tog, visueel is dit pragtig. Die stelle lyk mooier as Hansie en Grietjie se lekkergoedhuisie, en die musiek (ook die wat oorspronklik vir die rolprent gekomponeer is), is natuurlik uit die boonste rakke.

ʼn Mens kan jouself (en jou objektiwiteit) heeltemal verloor in die visuele oordadigheid in 3-D, maar dit is al wat die fliek uiteindelik is: mooi prentjies met asemrowende stelle en lekker-luister-musiek. Mackenzie Foy as Klara is ook ʼn vars ontdekking. (Sy het al tevore in flieks gespeel.) Sy speel uit haar hart uit, maar die twee regisseurs kom nooit werklik by daardie hart uit nie.

Die rolprent gaan oor Klara wat ʼn Neutekraker-pop ontdek. Maar die koninkryk word bedreig deur die Sugarplum Fee wat ʼn wrok teenoor haar suster koester en alles en almal (insluitend ʼn weermag muise, nie rotte soos in die ballet nie) wil vernietig.

Rekenaars het die grootste dele van die rolprent gemaak met spesiale effekte wat jou asem sal wegslaan. Verwag dus ʼn visuele skouspel, maar nie altyd die warmte en deernis vir die karakters wat jy voel as jy na die ballet gaan kyk nie.

The Nutcracker and the Four Realms wys tans by SterKinekor en NuMetro

Leon van Nierop resenseer weekliks rolprente soos hierdie een op sy Facebook-blad. Besoek ook sy blad vir resensies oor rolprente met lokprente en interessante feite.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Linda ·

Ek het gaan kyk omdat ek gedink het die “skouspel” kan goeie vermaak wees na ‘n rowwe werksdag, maar ek was baie teleurgestel. Die akteurs is koud en kil, daar is nie passie in nie. Klein dogtertjies sal dit dalk geniet maar ek sou dit nie aanbeveel nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.