Leon van Nierop se resensie: The Serpent

THE SERPENT  ****
Met Tahar Rahim en Jenna Joleman
Regisseur: Hans Herbots

Toe. Skraap genoeg moed bymekaar. Jy weet dat iewers, daar tussen die klein kindjie in die donker wat jy lank tevore was en die volwassene, daar nog bietjie moed skuil. Juis in ʼn brutale land wat nou anargisties geword het.

Hoekom dan nog na ʼn wrede TV-reeks kyk in ʼn land wat totaal buite beheer geraak het en in die Wilde R-1-Weste ontaard het? Dan voel jy 0,0002% beter oor jou situasie.

The Serpent is op die waarheid gegrond en handel oor een van die mees boosaardige, berugte en gevaarlike narsistiese psigopate wat die wêreld ooit geken het. Wel, naas Hitler miskien. Dié man het werklik bestaan en die reeks beeld uit wat hy aangevang het.

Eerstens moet Tahar Rahim (van die rolprent A Prophet in 2009) geloof word vir die gedaanteverwisseling wat hy ondergaan het om hierdie star, uitdrukkinglose monster op só ʼn manier te speel dat jy glo hierdie wese het dieselfde suurstof as jy ingeasem.

Die weersinwekkende individu en sy vriendin, gespeel deur die TV-reeks Victoria se pragtige en talentvolle Jenna Coleman, het soos ʼn wafferse Bonnie and Clyde dosyne mense, veral reisigers, vermoor en soms in die sewentigerjare in Asië verbrand en op die strand agtergelaat. Charles Sobhraj (Tahar Rahim) het dosyne hippies en rugsakkers sonder skroom vergiftig en dan verbrand of laat lê om dood te roggel. Sy verbysterende verhaal word op briljante wyse (met enkele oordadige tydspronge) in hierdie reeks vertel. Ondenkbaar dat hy die gereg so lank ontglip het en dat sy meisie aan sy hipnotiserende sjarme geglo het.

Hoekom na iets so verwoestend kyk? Dan voel jy dalk bietjie beter oor die toestand waarin ons land hom tans en in die afsienbare toekoms sal bevind. Want dit is ondenkbaar dat hierdie kriewelrige skelm soveel jare met sy wandade kon voortgaan. Vergeet staatskaping! Kyk wat hier gebeur het!

Jy staar in afgryse hierna. Die reeks handel hoofsaaklik oor sy diaboliese sjarme, meer as eksplisiete uitbeeldings van sy gruweldade. Dus verstom jy jou daaraan dat een lieplapper-rampokker al hierdie skokplanne uitgedink het en uitgevoer het reg onder die gereg se neuse, tot ʼn Nederlander, Herman Knippenberg (ʼn raak uitbeelding deur Billy Howle) sy spoor geruik het.

Kyk daarna en sit verstar, maar veral oor Tahar Rahim se onwerklike raak uitbeelding van hom. A. Ná hierdie resensie het jy daardie stukkie moed ontdek wat jy vermoed het jy het om jouself hiermee te konfronteer. Kyk daarna. Onthou, geen persone onder 16. Op Netflix.

Leon van Nierop resenseer weekliks rolprente soos hierdie een op sy Facebook-blad. Besoek ook sy blad vir resensies oor rolprente met lokprente en interessante feite

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Snowball ·

‘n Mens sit vasgenael in hierdie reeks. Moes maar oorgaan in “Binge-Watch mode” en kyk om klaar te kyk. Charles Sobhraj se diaboliese houvas op Marie- Andrée was vir my fassinerend, amper asof sy blote teenwoordigheid haar in ‘n slaafse lappop verander het – een wat meedoen aan sy boosheid, selfs terwyl sy bewus is van wat reg en verkeerd is. Sy word ‘Monique’ – amper asof ‘n ander persona nodig is om saam te leef met haar gewete. Ek verwonder my altyd oor vrouens se verknogtheid aan psigopatiese mans.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.