Leon van Nierop se resensie: The War with Grandpa

The War with Grandpa    ***
Met Robert de Niro en Uma Thurman
Regisseur: Tim Hill

ʼn Mens kan beswaarlik glo dat daardie grootste van groot geeste, wat sulke legendariese spel in Raging Bull, The Deer Hunter en Taxi Driver gelewer het, nou verban is tot oulike oupa-rolle met ʼn skewe grinnik. Maar dit is skynbaar wat nou met die grote Robert de Niro gebeur het. Moontlik het hy geld nodig, dalk kry hy nie beter rolle nie, of miskien voel hy dat hy nou ʼn nuwe geslag fliekgangers aan sy talente bekend wil stel.

Hoe dit ook al sy, met hierdie befoeterde oupa-rol gaan hy ʼn hele string nuwe bewonderaars kry, want jy kry hier Robert de Niro-Lite, soos in die bier. Geen skop, geen kalorieë en geen uitdaging aan sy talente nie. Net lighartige pret. Hy skud hierdie rol sommer uit sy mou en lag dan kliphard in dieselfde mou omdat hy met so baie clichés wegkom. “Julle swape!” skyn hy vir ons mee te deel.

As jy Home Alone gesien het, is hierdie liggewig-komedie eintlik die stiefkind daarvan, want dit gaan oor die oorlog tussen gryse ervaring en melkbaard-groeiseltjies tussen puisies. Ook tussen ʼn gewigtige man wat die lewe in al sy fasette ken teenoor die voortvarendheid van die jeukerige en verwaande jeug.

ʼn Ouballie (De Niro) trek by sy kinders in, maar die seun moet sy kamer afstaan aan sy oupa. Die kind is glad nie beïndruk daarmee nie en doen alles waarmee hy vorendag kan kom om sy oupa se lewe so ondraaglik as moontlik te maak, dat die oubaas uiteindelik sal opgee en die pikkie toelaat om terug te keer na sy heilige kamer.

Maar die seun onderskat die outoppie se ondernemingsgees. En vir elke truuk waarmee sy sagte handjies vorendag kom (sommige vuil poetse soos gom in plaas van skeerroom!) pluk die oupa ʼn ander haas uit sy hoed. Dit terwyl hy probeer sin maak uit die moderne lewe waarin jy deesdae self jou kruideniersware moet skandeer! Maar as hy dit kan baasraak, sal hy sekerlik sy kleinseun ook kan troef. Of so dink hy…

Jy kan dus uit hierdie resensie aflei dat The War with Grandpa so lekker is soos kondensmelk uit ʼn blikkie drink en dan nog jou vingers boonop aflek. As julle as gesin weer saam teater toe wil gaan en mekaar op die rug klap dat jou masker skoon windskeef sit daarvan, gaan geniet die vete tussen Oupa en kleinseun. Jy sal lag, jy sal sommige tonele dalk al te bekend vind en uiteindelik besef: die wysheid van die grysheid kan melkbaardjies laat hard word.

Dit wys slegs in rolprentteaters, dus is dit net die verskoning wat jy soek om weer uit te gaan saam met die gesin. Lekker, man, lekker.

Die fliek wys by Ster-Kinekor en Nu-Metro.

Leon van Nierop resenseer weekliks rolprente soos hierdie een op sy Facebook-blad. Besoek ook sy blad vir resensies oor rolprente met lokprente en interessante feite

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Karina ·

Dit was nou ‘n “lekker fliek” om na te kyk. Ek het dit baie geniet en kyk gerus.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.