Leon van Nierop se resensie: Time is Up

Time is Up (in teaters) **
Met Bella Thorne en Benjamin Mascolo  
Regisseur: Elisa Amoruso

Dikwels is ʼn romanse ook net te goed om waar te wees. Wanneer Vivien en Royan, twee van die mooiste mense op die planeet, voor ʼn amper-tragedie te staan kom, besef hulle eers hoe waardevol liefde werklik is, en dat die lewe nie iets is om mee te speel nie. ʼn Mens moet dit waardeer.

Maar waar daar in Hollywood ʼn geïdealiseerde romanse is, veral met ʼn opruiende held met ʼn weglê-regopstaan-kuif, tatoeëermerke  en ʼn donker verlede, moet daar ook ʼn derde deel van die driehoek teenwoordig wees, en hy moet amper net so mooi soos die rebel wees.

Las Sebastiano Pigazzi as Steve in die prentjie by, en die skone Vivien weet nie wie om te kies nie, al is dit vir die kykers meer as duidelik wie die regte ou vir haar is.

Dele van die rolprent speel in Rome af, dus is elke bestanddeel van die suksesresep teenwoordig. Die beeldskone en outydse voorkoms van Rome met sy bekende (romantiese) bakens en drie aantreklike minnaars wat sorgeloos deur die stad baljaar, maar net twee kan mekaar kry.

Die twee sterre sinspeel daarop dat volwassenes vinnig deur hierdie spookasem romantiese drama sal sien, maar tieners sal hulle verlustig in elke liewe cliché wat al ooit vir romantiese dramas geskep is. Maar dan gebeur die onverwagse, en die twee ouens wys hul ware kleure.

Uitsluitlik op tieners gerig wat kougom vir die oë soek.

Die fliek is by Ster-Kinekor en NuMetro te sien.

Leon van Nierop resenseer weekliks rolprente soos hierdie een op sy Facebook-blad. Besoek ook sy blad vir resensies oor rolprente met lokprente en interessante feite.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.