Leon van Nierop se resensie: Uncharted

UNCHARTED
Met Tom Holland en Mark Wahlberg
Regisseur: Ruben Fleischer

Kyk, jy moet baie toegewings maak en geduld hê om hierdie rolprent vir soetkoek op te eet. Jy kry nie meer oordadig, vergesog en eksplosief as hierdie fantasie nie. Dit is eintlik Indiana Jones in babadoeke, want dit gaan oor twee avonturiers met Tom Holland (van Spider-Man-faam) as Nathan Drake, die jong prototipe en skaamtelose nabootsing van Indiana. Hy lyk deurgaans oorbluf en verstom, en, het Holland self erken: hy kon nie glo dat hy die waaghalstoertjies baasgeraak het, so ʼn stewige sespak ontwikkel het en, die gevaarlikste, uit ʼn vliegtuig val oorleef het nie.

Net die openingstoneel alleen sal jou jou hande in verbasing laat saamslaan. Hoe die waaghalse en Holland dit reggekry het, weet nugter.

Stel jy in die storie belang? Dis eintlik net ʼn verskoning vir ʼn reeks aksie-toertjies om aanmekaargelas te word, slim kwinkslae (“are you kiddin’ me, kid?”) en tuimelende avonture. Mense val deurgaans, trek deur die lug, oorleef miljuisende vuishoue en sorg dat hul rûens nie breek gedurende die woeste gevegte nie.

Mark Wahlberg is maar eina-eina in die mede-hoofrol, want dis duidelik dat hy nie gewoond is dat die avonture nie om hom draai nie. Hy lyk, om die waarheid te sê, dikwels verveeld en sê die dialoog op asof hy vergeet het in watter draaiboek hy dit gelees het. Tog is dit aksiebelaai en verwoestend vermaaklik.

As jy en die kinders (bo 13) wil uitgaan en in ʼn teater gaan sit en saam deelneem aan die kaperjolle, is hierdie jou soort fliek. Maar ai, jou logika gaan ʼn stewige deursettingsvermoë moet openbaar!

Die fliek is by Ster-Kinekor en NuMetro te sien.

Leon van Nierop resenseer weekliks rolprente soos hierdie een op sy Facebook-blad. Besoek ook sy blad vir resensies oor rolprente met lokprente en interessante feite.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Chantel ·

Soms is mens lus om net ‘n fliek te kyk wat nie veel inspanning verg nie, dan is sulke flieks die regte medisyne. Ek het al baie geleer, maak maar eerder jou eie afleidings. Nie almal se smaak is dieselfde nie.
Ek geniet bv dit om komedies te kyk, wat “common” is in ander mense se oë, dit verg werklik min inspanning. Na ‘n week se werk, waar ek myself totaal en al ooreis het, is dit lekker om net te sit en kyk.
Ander kere geniet ek lekker storieboek.

Vonkprop ·

Een baie belangrike feit wat Leon uit sy resensie gelos het is die feit dat die fliek op een van die beste Playstation videospeletjies ooit gegrond is. Die speletjie self is oordrewe en die aksie volop en om die “gaming” gemeenskap gelukkig te hou moet hulle dit so na aan die speletjie maak as moontlik anders word die fliek uitmekaar getrek. Spelers van die speletjie wag al jare vir die fliek en hoe meer aksie hulle insit hoe beter. Persoonlik dink ek nie die resensie van Leon was regverdig of objektief nie. Gelukkig verskil smaak.

SlinkseKoljander ·

Dalk moet jy ophou resesie skryf, gaan besoek eerder n ouetehuis of iets.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.