Leon van Nierop se resensie: Vuil Wasgoed

Vuil Wasgoed posterMet Bouwer Bosch en Bennie Fourie
Regisseur: Morné du Toit

Daar is seker min mense wat nog nie na hierdie uitbundige, stuitige en moedswillige komedie gaan kyk het nie. Toegegee, nie almal sal in die paadjies rondrol en na hul asem snak van die lag nie, maar dit bly (vir my in elk geval!) die snaaksste Afrikaanse rolprent wat ek nog gesien het, en dit sluit Jamie Uys se klassieke Daar doer in die bosveld in.

Onthou net, die humor is gestileerd en onkonvensioneel, dus tref dit jou dikwels soos ʼn nat handdoek in ʼn aantrekkamer voluit op die boude! Die storie is te ingewikkeld om hier volledig te vertel. Dit gaan ook nie juis om wát gebeur nie maar hoe dit gebeur!

Twee bleeksiele, uitmuntend vertolk deur die bekroonde Bennie Fourie, asook Bouwer Bosch, maak ʼn bestaan in ʼn wassery waar meer as net vuil wasgoed daagliks gewas word. Wanneer ʼn afgesnyde vinger eendag in hul winkel opduik, begin dit ʼn kettingreaksie wat snaakser raak hoe verder die rolprent vorder. Dat ʼn mens jou wrintiewaar vir ʼn afgesnyde vinger kan lag!

Mense wat dink dis oordrewe moet in gedagte hou: die rolprent is ʼn gespot, of dan “opstuur van” of parodie op Wilde Weste-rolprente of misdaadkomedies soos Guy Ritchie s’n (dink aan Snatch en Lock, Stock and Two Smoking Barrels). Met ander woorde, dit is ʼn brutale en genadelose gespot met ʼn genre. Dit word nooit bedoel dat jy enigiets ernstig moet opneem nie, al maak alles nie noodwendig sin nie.

Morné du Toit lewer stylvolle regie, en Quinn Lubbe as die redigeerder het die rolprent só knap gesny en geredigeer, dat dit eintlik téén die komedie insny en dit op daardie manier ʼn heerlike ritme gee.

As jou kop oop is, jy van iets anders as die alledaagse komedie hou en jy Afrikaanse films ondersteun, kan jy sonder waspoeier gaan kyk. Daar is genoeg korrels en versagmiddel in die fliek om jou deurgeskuurde nerwe te lawe!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Kobus ·

Nee wat, ek is seker te dom om enige humor in die fliek te beleef. Ek aanvaar met blydskap die feit dat smaak verskil.

SF ·

Ek het kliphard geskater van die lag en Afrikaanse komedie is weliswaar nie my gunsteling tipe fliek nie. Dis egter uitstekende vermaak en die toneelspel is puik. Laat val jou skerms, koop popcorn en gaan kyk die fliek.

Hannelie ·

Ek sal die fliek nie aanbeveel nie, was nou nie my “cup of tea” nie. Het al baie beter Afrikaanse flieks gesien.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.