Leon van Nierop se resensie: Wonderlus

Wonderlus ****    (8/10)
Met Beer Adriaanse en Ansu Visser
Regisseur en draaiboekskrywer: Johan Cronjé

Die dae van jou jonkwees gaan binne ʼn oogwink verby. Wat gebeur as jy die sprong van kindwees na volwassene binne ʼn oogwink moet voltooi sonder om ooit die voorreg van daardie onbesonne dae van jonk en lus wees te kon gehad het? Hierdie rolprent verdwaal in die niemandsland van jonk en onverantwoordelik wees en kyk na hoe seuns oornag manne word in die oorlog van verhoudings, terwyl meisies hul onskuld verloor en verstaan waaroor verhoudings en die lewe eintlik gaan.

Woorde vlieg soos koeëls tussen die drank, toesprake, vol plaasdamme en kooie rond (die ouderdomsbeperking is 16).

Hierdie temas word met oorspronklikheid, ʼn venynige sin vir humor (let op gemotiveerde vierletterwoorde), ʼn siniese nihilisme en baie drank uitgebeeld. Maar dit word op ʼn verantwoordelike manier gedoen met ʼn uitstekende span akteurs en dialoog wat so natuurlik is, dit voel of jy dit afluister.

Draaiboekskrywer en regisseur Johan Cronjé neem Afrikaans hier na ʼn vlak waar hy nog nie tevore sedert Johnny is nie dood nie was nie, en beeld ʼn klomp bronstige manne uit wat hul beste vriend (Edwin van der Walt) se troue bywoon, en eerlik en met doelgerigtheid, gepeper met galgehumor en jeugdige filosofieë, oor die niks van grootmenswees wroeg. En baklei oor niks.

Weet net: die eksistensiële komedie is taai, dit is so snaaks soos grond, dit is sielsopenbarend waar, daar word situasies gewys en taal gebruik soos jy lanklaas gesien het, maar so gemotiveerd dat dit soomloos inskakel by die tema.

ʼn Mens wonder waar die wonderlik-natuurlike Ansu Visser al die jare weggekruip het, terwyl Mila Guy as die bruid en Lea Vivier as die kelnerin spel lewer wat ʼn mens trots maak op ons plaaslike talent. Maar dis Beer Adriaanse met die stoppels wat lyk of hy in steenkool gebad het, en die gesaghebbende Edwin van der Walt met daardie vaspen-oë van hom wat waarsku: “Moenie met my neuk nie!” wat die boodskap nog meer treffend oordra.

Edwin het hier die grens van jong seunsrolle speel na man-wees gemaklik oorbrug.

Jy sal gil, jy sal giggel, jy sal jou hand voor jou mond klap en uiteindelik besef: die liefde is nie vir sissies nie. Verlief wees en lief wees is twee heeltemal verskillende emosies. En iewers tussenin is lus word. Maar waar pas ʼn sin vir verantwoordelikheid in?

ʼn Baanbrekende goeie toevoeging tot Afrikaanse film.

Wonderlus wys nou by Ster-Kinekor en NuMetro.

Leon van Nierop resenseer weekliks rolprente soos hierdie een op sy Facebook-blad. Besoek ook sy blad vir resensies oor rolprente met lokprente en interessante feite.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

andre swanepoel ·

regisseur en vervaardigers het geen respek vir kykers met hierdie gevloekery. nie eers in die regte lewe vloek mense so in elke sin nie. sover ek gaan raai ek mense af om die fliek te gaan kyk. niks opbouend nie en moraliteit swak. G’n wonder ons moedig jong mense aan om so te lewe nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.