Leon van Nierop se resensie: Zero to Zero

Zero to Zero *****
Dokumentêr oor wat agter die skerms in hospitale gebeur gedurende die Covid-pandemie.

Die tydsberekening van hierdie briljante dokumentêr kon nie beter gewees het nie. Die publiek is dalk geneig om te dink: alles is nou verby en die wêreld gaan terugkeer na normaal ná al die inperkings van die Covid-pandemie. Koerantberigte gee koel feite en getalle wat dikwels by ʼn mens verbygaan, mense bespiegel, daar is diegene wat vir en teen inentings is en ander wat weer ander teorieë het. Hier is geen lukrake bespiegelings nie. Net feite wat gerugsteun word deur bewyse op kamera. Maar hierdie nugter, saaklike en koelkop dokumentêr stel sake in verstommende en dikwels brutale perspektief.

Ja, daar is die gewone feite wat deur geleerdes gegee word, maar Christa Lategan (kundige redigeerder en medevervaardiger), professor Leonie Scholtz en Shem Compion waag dit met hul kameras waar niemand dit tevore gewaag het nie. Tot in die hart van die dier. Die kamers waar mense sterf of deurdruk na genesing.

Hulle konsentreer veral op die Zuid-Afrikaans Hospitaal (Pretoria) waar mense om hul lewens geveg het en steeds veg, en waar andere van buite die virus geringskat het. Indien die kyker gekonfronteer word met die angs en lyding van gesonde mense wat skielik platgetrek is deur die siekte (baie het gesterf), wil jy self staande applous saam met die hospitaalpersoneel gee aan pasiënte wat teruggeveg het. Nie alleen met die onvergelyklike onselfsugtigheid waarmee gesondheidswerkers hulle verpleeg het nie, maar vir pasiënte en verpleegpersoneel se geloof en gebede. En die trane wat selfs hulle gestort het.

Hierdie is geen vervelige opeenstapeling van feite nie. Daar word met die gesondheidswerkers gepraat, veral die uitstekende en professionele dr. Yanila Nyasulu, wat daagliks aan die voorste linies geveg het, se waarnemings en verhale oor die pasiënte, en om dit eerstehands te ervaar en selfs mee te maak deur die oog van die lens, maak hierdie dokumentêr besonders.

Maar die sterkpunt is nie net die onderhoude met die helde en heldinne, dus die gesondheidswerkers nie, maar veral met diegene wat oorleef het soos ʼn man, hoof van ʼn groot maatskappy, wat ná drie weke eers kon begin praat, laat staan nog behoorlik kon loop. Sonder om in sentimentaliteit of ʼn melodramatiese verering te verval, bring die reeks hulde aan die gesondheidswerkers wat dae en weke lank feitlik sonder ʼn ruskans gehelp het om pasiënte, veral die wat in isolasie was en is, te bemoedig en te help. Want die ergste is (uit hul eie monde) dat dit skrikwekkend is om so alleen in die bed langs suurstoftenks en met maskers op te lê en nie eers behoorlik te kon sien hoe die helde en heldinne lyk wat jou gehelp het nie, laat staan nog om met hulle te kommunikeer.

En dan die kosbaarste: daardie eerste aanraking van ʼn hand op ʼn natgeswete gesig nadat hulle herstel het. En die trauma waardeur die familie gaan.

Al kyk jy net na een dokumentêr in jou lewe, maak hierdie een ʼn prioriteit. Want die filmmakers en span agter die skerms verdien net soveel lof omdat hulle die waarheid vreesloos sonder sensasie wys, as die gesondheidswerkers wat soveel lewens gered het. En hul trane wanneer hulle ʼn pasiënt verloor.

4 Oktober om 20:30 op M-Net 101

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.