Liefdesdriehoek, lewenslesse in ‘Klein Karoo 2’

In 2013 het Afrikaanse fliekliefhebbers in die suksesvolle rolprent Klein Karoo kennis gemaak met Frans, vertolk deur Tim Theron, ’n hartgebroke dokumentêre regisseur wat halsoorkop verlief raak op ʼn jong onderwyseres, Cybil, vertolk deur Donnalee Roberts.

Theron, ook vervaardiger van die fliek, klim nou vir ʼn tweede keer in Frans se skoene in die opvolgrolprent, Klein Karoo 2, en dié keer is Frans ʼn meer volwasse, afgematte karakter wat selfs nog belangriker lewenslesse het om te leer.

“Dit was lekker om weer in Frans se lyf in te klim, want dit is ʼn karakter wat my uiteraard baie na aan die hart lê. Klein Karoo was die heel eerste fliek wat ek vervaardig het en die rolprent het so ʼn positiewe reaksie gehad en die verfilming van die fliek het vir my net goeie herinneringe ingehou,” vertel Theron aan Maroela Media.

Klein Karoo 2 skop af op Frans en Cybil se troudag, wat ongelukkig nie uitwerk soos kykers óf Frans gehoop het nie.

Roberts was tydens die verfilming van Klein Karoo 2 nie beskikbaar om weer die rol van Cybil te hervat nie. Daarom moes die vervaardigers van SCENE23, ʼn produksiemaatskappy onder leiding van Deon Meyer, Tim Theron, Cobus van den Berg, Tracey Lange en Jorrie van der Walt, asook die draaiboekskrywer, Lize Vosloo, en regisseur, Liezl Spies, noodgedwonge die karakter van Frans herontwerp en laat groei.

“Nes ek is Frans ʼn bietjie ouer en meer volwasse. Daar is ʼn klomp goed wat in sy lewe verkeerd loop en hy is dié slag nie so positief en naïef soos in die eerste fliek nie,” sê Theron.

Akteurs soos Leandie du Randt, Sisanda Henna, Pierre Breytenbach, Hykie Berg en Anel Alexander, wat ook in die vorige fliek te sien was, maak weer ʼn draai in Klein Karoo 2. Marciel Hopkins, Nicole Fortuin, Bennie Fourie, Margit Meyer-Rodenbeck, Gerben Kamper, Hein de Vries en Antoinette Pienaar maak ook ʼn verskyning in die nuwe fliek.

Frans, wat gedwing word om ʼn tree terug te gee en sy lewe te herevalueer nadat hy vir die tweede keer voor die kansel gelaat is, kom egter gou agter dat dinge eintlik erger kan word. Op pad terug, nadat hy ontdek het dat hy ʼn breingewas het, stop hy langs die pad om vir Chloë (Hopkins), ʼn beeldskone boer wat besig is om ʼn heining reg te maak, te help.

Tim Theron en Leandie du Randt in ‘Klein Karoo 2’. (Foto: Verskaf)

Sy vertel hom dat al die boere in die Karoo-omgewing sukkel omdat hulle vee gesteel word. Dit is ʼn groot bekommernis omdat hul lewensbestaan in gevaar is.

Sonder om dit te weet probeer Frans vir Chloë red deur in te spring en ʼn lig op die probleem te werp deur ʼn dokumentêr te maak oor die verskriklike voorvalle waardeur die boere in die gesig gestaar word. Bongi (Henna) en Jackie (Du Randt), saam met Tarryn (Fortuin), die fotografieregisseur, moet almal help om die dokumentêr te laat realiseer.

Frans is bang en versigtig omdat sy hart pas weer gebreek is, maar dit is duidelik dat daar aantrekkingskrag tussen hom en Chloë is. Terselfdertyd bring Frans meer tyd saam met Jackie deur en ontdek hy ʼn kant van haar wat hy nie ken nie. Hy identifiseer met haar kuns en kan nie ontken dat sy hart ʼn bietjie vinniger laat klop as wat hy wil herken nie.

“Buiten die feit dat daar ʼn liefdesdriehoek ontstaan en Frans voor ʼn keuse te staan kom wanneer dit by die sake van die hart kom, moet hy ook op die harde manier leer dat hy nie altyd iemand hoef te red deur groot gebare om liefgehê te wees nie,” verduidelik Theron.

“Ons wou nie weer die stereotipiese, patriargale roete volg waar die man die een is wat moet kies tussen twee vroue nie. Frans moes ook ʼn paar lesse leer en dié keer leer hy dit op die harde manier. Tussen die eerste en tweede fliek het Frans besef dat die lewe soms ʼn bietjie meer uitdagend kan wees as waarvoor hy krag het en dat dinge nie altyd uitwerk soos wat hy gehoop het nie.”

Marciel Hopkins in ‘Klein Karoo 2’. (Foto: Verskaf)

Theron vertel dat die sjarme van die eerste rolprent baie te doen gehad het met die draaiboek wat deur Etienne Fourie geskryf is, en dat daar ʼn onskuld aan die fliek en die karakters was by wie baie mense troos kon vind. Hy sê hoop dat die tweede fliek vir mense dieselfde tipe troos sal bied, veral tydens die pandemie, al is die temas wat aangeraak word dié slag effe dieper en swaarder.

“Ek dink baie mense kan met die karakters vereenselwig en is ingetrek deur die feit dat dit net ʼn mooi storie is wat nie enige agendas het nie. Ek hoop die tweede rolprent kan dieselfde effek op mense hê.”

Klein Karoo 2 is geskiet aan die voet van die Swartberge en volgens Theron dra die eenvoudige skoonheid van die omgewing by tot die rolprent.

“Die omgewing laat ʼn mens se hart stadiger klop en jy kan voel hoe jou longe vul met lug. Ek hoop mense kan te midde van die Covid-19-chaos waarin ons onsself bevind ʼn oomblik van stilte en rus beleef terwyl hulle na die fliek kyk.”

Tim Theron en Leandie du Randt in ‘Klein Karoo 2’. (Foto: Verskaf)

Theron beskryf die omgewing waar die fliek geskiet is as “betowerend”. “Ons het so ʼn bietjie langer as vier weke in die Matjiesriviervallei naby die Kangogrotte geskiet. Dit is nie die dorre Karoo soos wat mense sal verwag nie – dit is groen en interessant en ʼn fantastiese gebied om in te werk.”

Klein Karoo 2 sal van 15 Desember op DStv Box Office te sien wees. Die span van die fliek sal ook ʼn Kaapse toer onderneem waartydens die rolprent op ʼn groot skerm vertoon sal word.

Die fliek kan steeds aanlyn gekyk word deur DStv Box Office sonder dat dit nodig is om ingeteken te wees.

Kyk hier na die lokprent:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
MakersMark

Die braaihoender wat in die oond draai by fontana is meer interessant.

AmY

Kan nie wag nie. Ek glo die fliek gaan nie teleurstel nie.