Lokprent: ‘Toorbos’ gaan grootskerm toe

‘Toorbos’ met Elani Dekker en Stiaan Smith.

Toorbos, die vierde roman in die bekroonde Afrikaanse skrywer Dalene Matthee se reeks bosverhale, is in ʼn vollengte rolprent verwerk en sal eersdaags in rolprentteaters landswyd te sien wees.

Die regisseur René van Rooyen, wat ook die kykNET-reeks Alles Malan en die rolprent Mooirivier se regie behartig het, se verwerking van Toorbos sal tentatief vanaf 25 September 2020 in teaters te sien wees. Van Rooyen het ook die draaiboek geskryf.

Die fliek is vervaardig deur bekroonde rolprentmaker André Scholtz en sy seun Dries Scholtz van The Film Factory.

Met asemrowende beelde en meesleurende kinematografie, is Toorbos ʼn liefdesdrama wat die kyker sal oorrompel. Die rolprent vertel die storie van Karoliena Kapp, ʼn vrou met ʼn intieme liefde en verbintenis met die bos, en ondersoek die ontworteling van dié jong bosvrou in die tyd van die laaste bosbewoners van die Suid-Afrikaanse Knysna-woud van die 1930’s.

Wanneer Karoliena egter die man van haar drome ontmoet, veroorsaak hierdie einste bekoring ʼn liefdesdriehoek wat dreig om haar uitmekaar te skeur wanneer sy moet kies tussen trou en dorp toe trek, of agterbly in die plek waar sy veilig voel. Die besluite wat sy neem, lei tot ʼn onvergeetlike avontuur van innerlike konflik, verandering, aanvaarding en, bowenal, liefde.

Ons volg Karoliena soos sy verbind word in ʼn huwelik met Johannes Stander, die realiteite van ʼn selfgerigte, geldsoekende samelewing en die onderdrukking daarvan, en beleef wat dit haar gaan kos om getrou aan haarself te bly.

Elani Dekker vertolk die rol van Karoliena Kapp terwyl Stiaan Smith te sien is as Johannes Stander. Ira Blanckenberg, Clare Marshall, Ivan Abrahams, Gretchen Ramsden is ook in die fliek te sien. Brendan Barnes het die kinematografie behartig.

Toorbos het die toekenning gewen vir die Works in Progress (WIP)-program by die Kaapstad Internasionale Mark en Rolprentfees (CTIFMF) in 2018. Die fliek is gekies as een van vyf rolprente uit 54 inskrywings uit 15 Afrikalande. Die fliek het ook in 2019 op die 9de kykNET Silwerskermfees gedraai.

Kyk die lokprent hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

ES ·

Ek is mal oor al haar boeke, my voorgeskrewe boek in matriek was Kringe gewees en ek het Fiela se Kind gelees as kind maar Toorbos was my gunsteling van al haar boeke.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.