Lokprent vir ‘Meisies wat fluit’ hier

Die amptelike lokprent vir skrywer-regisseur Johan Cronjé se nuwe rolprent, Meisies wat fluit, is Dinsdag bekendgemaak.

Cronjé is ook die regisseur van die grensverskuiwende Afrikaanse rolprent Wonderlus wat in 2018 uitgereik is.

Leandie du Randt, Stiaan Smith, Amalia Uys, Geon Nel, Anré Bouguenon, Pietie Beyers, Hanli Rolfes, Bennie Fourie en Gerald Steyn is in Meisies wat fluit te sien. Die fliek handel oor Henk (Stiaan Smith) en Sofia (Leandie du Randt) wat saam in die bed beland nadat hulle egskeiding deur is.

Die fliek is vanjaar deel van die kykNET Silwerskerm-webinaar wat aanlyn plaasvind en die première is op Vrydag 4 September tydens die webinaar op DStv BoxOffice.

Meisies wat fluit, wat aanvanklik as ʼn televisiefliek geskryf en geskiet is, was deel van Nagvlug Films en Showmax se televisierolprentprojek, waaronder ander speelflieks soos Posbus 1 en Somerkersfees vervaardig is.

“Ons was so beïndruk met die gehalte van Meisies wat fluit, en wat die span met ʼn klein begroting reggekry het, asook die kwaliteit van die draaiboek en die akteurs se spel, dat ons besluit het om die fliek terug te hou tot vanjaar se Silwerskerm-webinaar,” sê Wikus du Toit, toesigvervaardiger van komedie, drama en rolprente by kykNET.

“Johan Cronjé het ʼn fyn gefokusde talent om kontemporêre verhoudings tot op die been oop te kloof en ʼn vergrootglas te plaas op die kleine waarby kykers op ʼn groter vlak aanklank vind,” voeg Du Toit by.

Kyk hier na die lokprent:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae