‘Fynskrif’ se Luke lééf sy passie vir stories vertel

Luan Jacobs. (Louis Daniel Botha)

Luan Jacobs. (Louis Daniel Botha)

As Luke in die kykNET-dramareeks Fynskrif, het Luan Jacobs (30) hom in sitkamers oor die hele Suid-Afrika tuisgemaak.

Hy is ook bekend as Riaan van Dyk in die SABC 2-sepie 7de Laan en as Lexi se kêrel, Ross, in die kykNET-sepie Binnelanders,

Met sy rol as Jan-Paul Otto in die 2015-fliekweergawe van Ballade vir ʼn Enkeling, teenoor Edwin van der Walt en Christia Visser, en sy rol as Willem in die rolprent Suurlemoen!, het hy hom stewig op die Afrikaanse silwerdoek gevestig.

Dié talentvolle akteur het ook tydens vanjaar se Silwerskermfees in die kortfliek Die Nag van die Ondier gespeel én boonop ʼn rol losgeslaan in die splinternuwe Sallas de Jager-fliek, Dominee Tienie, met Frank Opperman en Henriëtta Gryffenberg in die hoofrolle.

Jacobs het ook sy eerste kortfliek, ʼn Sterrejag, vir dié rolprentfees vervaardig en die regie daarvoor behartig. Hy vertel die konsep vir die fliek is geïnspireer deur ʼn bergklimsessie in Swaziland.

“Ek het die Emlembe-berg, wat die hoogste berg in Swaziland is, uitgeklim. Toe ek daar bo is, sien ek ʼn grenspos bo-op die berg, en tussen dié grenspos en Suid-Afrika is daar net so ʼn klein, vertrapte hekkie. Ek begin toe wonder of die ou wat op Swaziland se grenspos sit in die aande, en so koud kry tussen die wolke, en die ou wat aan ons kant van die hekkie sit, gesprekke met mekaar het. Praat hulle met mekaar? Watse vriendskappe kan hier ontgin word?”

Luan Jacobs. (Foto: Facebook/Iris Grace Photography)

Luan Jacobs. (Foto: Facebook/Iris Grace Photography)

Hy het sy idee met sy kollegas en vriende gedeel. “Ons het toe gesels oor moontlike maniere hoe hulle sou kommunikeer en die idee van skadupoppe en flitsliggies het ontstaan. Ons het geweet ons kan nie op die berg in Swaziland die fliek gaan skiet nie. Jy kan dit nie aan ʼn filmspan doen nie aangesien dit ʼn moeilike klim is. Ons het toe die storie kleiner begin maak en van daar af gefokus op die idee van vriendskap.”

Volgens Jacobs is hy aangetrokke tot flieks met magiese realisme en wou steeds poog om elemente soos drake en fantasie by sy fliek in te voeg. “Ons het dit ontwikkel in ʼn storie oor ʼn jong seuntjie, Daniël, en ʼn ou oom. Die oom (vertolk deur Lochner de Kock) se vingers is kromgetrek deur artritis en hy kan nie meer die skadupoppe doen nie, en die seuntjie (Ian Roelofs) help hom dan daarmee.”

Hy vertel dit was sy kollegas wat hom oortuig het dat hy die perfekte kandidaat is om die regisseur vir die fliek te wees omdat hulle gedink het hy is baie soos Daniël se karakter. “Ek vereenselwig my verskriklik baie met hom. Ek dink ek was daai laaitie,” gee hy laggend toe.

Dit is ook sy en die medevervaardiger en skrywer van ʼn Sterrejag, Johan Riekert, se speelgoed uit hul kindertyd wat in die fliek gebruik is. “Dit was verskriklik nostalgies en verrykend. Ons wou juis ʼn ’90’s-kind gebruik vir die fliek – die een wat nog sy verbeelding moes gebruik en nie die een wat ʼn iPad tot sy beskikking het nie.”

Luan saam met Frank Opperman in 'n toneel uit 'Dominee Tienie'.

Luan saam met Frank Opperman in ‘n toneel uit ‘Dominee Tienie’.

Hy kan nie uitgepraat raak oor die platform wat die Silwerskermfees vir jong fliekmakers skep nie. “Ek dink dit ontwikkel nie nét die fliekmakers nie maar ook die gehore. Ons as akteurs en Suid-Afrikaners het soveel stories wat ontgin kan word. Silwerskermfees bied ons die geleentheid om nié soos die Amerikaners of Europeërs te klink nie en gee ons die veiligheidsnet om ondersoek in te stel en ons eie stem te vind.”

In Dominee Tienie, wat op 25 Januarie 2019 in fliekteaters landwyd vrygestel word, vertolk Jacobs die rol van Martiens, dominee Tienie se seun. “Martiens is baie eensaam in die opsig dat hy verlang na sy gesin en na wie hulle was voor sy pa, wat die dominee op die dorp is, so besig geraak het met sy gemeente dat hy van sy eie gesin se behoeftes vergeet. Ek dink dit is maar ʼn Afrikaner-sindroom, waar ouers partykeer nie weet hoe om met hulle kinders te praat nie.”

Om sy eie fliek op die grootskerm te sien, het hom baie kwesbaar laat voel. “Sodra die fliek op die skerm begin, weet jy dat daar nou niks meer is wat jy kan verander nie. Jy kan nie ʼn lig verstel of ʼn skoot verander nie. En daar sit jy tussen mense soos Jana Cilliers, Elize Cawood en Katinka Heyns. Maar dit laat jou ook ongelooflik voel. Ek het op die strand kaalvoet gaan hardloop om dit te vier – die Pretorianer in my kon nie nee sê daarvoor nie!”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.