Luister: Aktrise baklei vir ouma in rolprent

Angelique Gerber. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Angelique Gerber is nie net ’n aktrise en aanbieder nie, sy het onlangs gewys wat sy in die bokskryt kan vermag en dat sy beslis nie sonder handskoene aangepak moet word nie.

Gerber, wat tans die titel van derde BoxOp-wenner dra, het die geleentheid om vir mishandelde vroue en kinders te baklei, omarm.

Nie net het sy tydens die boksgeveg met Tasché Burger vroeër vanjaar haar ouma, wat deur haar oupa vermoor is, se naam op haar belt gedra nie, sy het vandag steeds die swaard teen vroue- en kindermishandeling in die hand.

“Dit was asof ek duidelikheid by die Here gekry het. Ek het besef dat ek vir my ouma moet veg. Ek het van die begin af geweet dat ek nie my eie naam op my belt wil sit nie, aangesien ek nie vir myself veg nie,” het Gerber vertel.

“Ek het besef dat ek vir elke Suzie, of dit nou ’n vrou, kind of man is, wat voel dat daar nie ’n uitweg is nie, baklei.”

Dié geveg se hoofdoel was om bewustheid te skep oor die wrede werklikheid wat sommige mense, veral vroue en kinders, in Suid-Afrika in die gesig staar.

Gerber vertel dat hoewel dit omstrede was om twee vroue in die bokskryt te plaas vir dié bewusmaking, is die hoofdoelwit van die geveg tog bereik.

“Ons het dit reggekry dat mense daaroor praat, en dis wat ons wou hê. Ons wou mense skok dat hulle daaroor begin praat want dis skokkend wat aangaan in party mense se huise.”

Sy sal eersdaags in die rolprent Suzie te sien wees.

Dié fliek plaas die kollig op die hartverskeurende werklikheid van mishandelde vroue en kinders.

Dit handel oor ’n vrou en haar kind wat moedeloos in ’n omgewing van mishandeling voortleef en hoe dié vrou deur boks ’n lig aan die einde van ’n donker tonnel begin sien.

Die moontlikheid van Gerber se betrokkenheid by die rolprent het egter al voor die aankondiging dat sy aan BoxOp 3 gaan deelneem, aan haar deur kom klop.

Met die vertel van haar ouma se tragiese verhaal, ’n eerste vir Gerber, het die vervaardiger en regisseur besef dat sy werklik die regte persoon vir die rol is.

“Die Here het ons paaie laat kruis,” het Gerber vertel.

’n Voorsmakie van die rolprent is vroeër vanjaar by die Voortrekkermonument in Pretoria verfilm. Dit gaan aan internasionale gehore gewys word met die hoop om ʼn fonds vir die rolprent op die been te bring.

  • Luister boaan die artikel na ’n klankonderhoud met Angelique Gerber.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

gpsa ·

Geluk met die rolprent Angelique. Hoop dis ‘n reuse sukses en dat dit nog groot deure vir jou sal oopmaak.

T-Man ·

Laat ek net gou verstaan, sy se sy het n geleentheid gekry om vir mishandelde vrouens te baklei en dit om in n boksruit te klim en n vrou te slaan?? Praat van n counter productive stelling…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.