Luister: Bouwer en Leandie as ‘Thys & Trix’

Leandie du Randt Bosch en Bouwer Bosch is Thys en Trix. (Foto: Verskaf)

Leandie du Randt Bosch en Bouwer Bosch is Thys en Trix. (Foto: Verskaf)

Die splinternuwe Afrikaanse aksiekomedie Thys & Trix, met Bouwer Bosch, Leandie du Randt Bosch en Brendon Daniels in die hoofrolle, is van vandag af op die silwerskerm reg oor Suid-Afrika te sien.

Bosch, wat die rol vertolk van ʼn onbeholpe polisiebeampte met die naam Thys, vertel dit was lekker om vir die eerste keer so nou saam met sy vrou op ʼn rolprentstel te werk. Sy vertolk die rol van Thys se suster Trix, wat saam met hom in die polisiediens is.

“Ons het voorheen al baie saamgewerk op stelle, soos met Mooirivier, Vuil wasgoed en Jagveld, maar dan het ons nie veel met mekaar te doen gekry tydens tonele nie. Met Thys & Trix moes ons amper dag en nag saamwerk, so dit was ʼn baie lekker ervaring.”

Hy vertel dat ʼn mens ʼn jou eggenoot beter leer ken wanneer julle saam werk. “Ander kante van jou persoonlikheid kom uit as jy byvoorbeeld onder druk is of as jy moeg is. Ek weet ander paartjies gaan stap die Otter of die Camino of kry bypassende tatoeëermerke om hul verhoudings te toets – ons het ʼn fliek aangepak,” skerts hy.

Bosch hou vol dat Du Randt Bosch uiteraard ʼn beter akteur is as hy en dat hy daarom baie by haar kon leer. “Om te sien hoe sy die proses benader en hoe sy voorberei vir haar rol en Trix aangepak het, het my baie geïnspireer. Sy vat haar kuns baie meer ernstig op as ek en ek het baie keer gedink ek sal moet begin beter raak om by te bly.”

Bouwer en Leandie du Randt Bosch tydens die première van die fliek. (Foto: Facebook)

Bouwer en Leandie du Randt Bosch tydens die première van die fliek. (Foto: Facebook)

Thys & Trix vertel die verhaal van die broer-en-susterspan wat saam in die polisiediens is, maar hulle is nie goeie beamptes nie en kom ook nie goed oor die weg nie. Thys is ʼn bedagsame knoeier en Trix is ʼn ongeskikte, sexy rabbedoe. Hul onderlangse twis en die feit dat hulle van kleins af sukkel om as span saam te werk, veroorsaak dat hulle geskors word nadat hulle die polisiediens een keer te veel in die verleentheid gestel het.

Speurder Solomons (Daniels), ʼn gesoute en passievolle speurder, ondersoek die bedrywighede van ʼn dwelmsindikaat in ʼn hoogs onwaarskynlike plek – ʼn eksklusiewe gholflandgoed buite Mosselbaai genaamd Pinnacle Point.

Daar is egter een probleem: Solomons gaan sukkel om in te pas op die landgoed en vanweë hulle “vanielje-voorkoms” word Thys en Trix vir die eerste keer uitgesonder as die bekwaamste span om ʼn ondersoek te lei, of eerder te laat ly. Solomons sal hulle vergesel, maar is glad nie ingenome met die feit dat hy die dienskneg gaan wees nie.

“Thys is slegs nog in die polisiediens as gevolg van nepotisme. Ons lewer dus ʼn bietjie sosiale kommentaar oor hoe die polisiediens in Suid-Afrika vandag is. Hy is baie naïef oor die lewe en gee almal ʼn twééde tweede kans. Hy kan nie met ʼn geweer werk nie, maar hy is goed met papierwerk en ʼn tikmasjien,” vertel Bosch.

Daarteenoor kan Leandie se karakter vergelyk word met ʼn cowboy of Tomb Raider, skerts Bosch. “Trix is die een wat hou van die aksie en sy is ʼn baie beter polisiebeampte as Thys.”

Thys en Trix, wat moet voorgee dat hulle ʼn getroude paartjie is, kry met ʼn hele paar interessante paartjies en karakters te doen op die gholflandgoed waar hulle die dwelmsindikaat moet vastrek.

“Die een paartjie is Ben (Ivan Zimmerman) en June (Chanelle de Jager). Hulle gee die heeltyd vir Thys en Trix huweliksraad. Hulle weet nie dat ons nie getroud is nie en ons kan die raad wat hulle uitdeel nie verdra nie.”

Zak Hendrikz en Dorette Potgieter vertolk die rolle van die paartjie met die status, André en Chandré. “Hulle is soos die Brad Pitt en Angelina Jolie van die gholflandgoed en hulle is baie intimiderend. Jy vermoed amper in ʼn mate heeltyd hulle is die skurke, omdat hulle karakters so sterk en dominerend is.”

Charlie Bouguenon (Gerhárd) en Deon Coetzee (Stephán) is ʼn paartjie wat portrette versamel. “Hulle is die grootste skinderbekke,” lag Bosch. Hy vertel ook Thys begin van die alleenloper, Heidi (Carine Rous) hou.

“Dit is ʼn ongelooflike ensemble-rolverdeling van gesoute teater- en rolprentakteurs wat ʼn groot verskeidenheid van komedie tot die fliek verleen. Dit was die groot doel met Thys & Trix, om ʼn komedie op die tafel te sit. Dit is nie die soort fliek wat jou gaan konfronteer met jou kwessies nie. Dit is nie ʼn swaar fliek nie – jy gaan net giggel vir hoe simpel hierdie karakters eintlik is.”

Die fliek is in samewerking met The Film Factory gemaak. Quentin Krog van Vir die voëls-faam is die regisseur van die fliek terwyl Danie Bester van The Film Factory saam met die Bosch-egpaar die vervaardiging behartig het.

Loki Rothman, die jong musikant wat ook sy talente aan die klankbaan vir die tienerfliek Jou Romeo verleen het, was ook vir dié fliek se klankbaan verantwoordelik.

“Dit is een ding wat ons altyd probeer doen – om onsself te omring met mense wat beter is as ons sodat ons by hulle kan leer en kan sorg dat dit ʼn kwaliteitproduk is wat gelewer word.”

Thys & Trix begin vandag in fliekteaters landswyd draai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.