Luister: Diaan Lawrenson vertel oor ‘uitmergelende’ rol in ‘Raaiselkind’

Diaan Lawrenson (Foto: Maroela Media)

Annelie Botes se ontnugterende verhaal oor outisme in Raaiselkind is in alle opsigte een wat die kompleksiteit van dié ontwikkelingstoestand blootlê – en nou is dié verhaal met Diaan Lawrenson in die hoofrol einde vandeesweek op die silwerskerm te sien.

Die aktrise, veral bekend vir die rol van Paula in die SABC2-sepie 7de Laan, breek ver weg van dié ligsinnige karakter om die skoene van Ingrid Dorfling in Raaiselkind vol te staan: ʼn rol wat sy as emosioneel uitmergelend en uiters uitdagend bestempel.

Lawrenson het in ʼn onderhoud met Maroela Media gesê afgesien daarvan dat dié rol “emosioneel sy tol geëis het”, moes sy veral “diep grawe om emosioneel eerlik te wees”.

Die aktrise vertolk die rol van ʼn doodgewone “kleindorpie-ma – ʼn gelukkige ma daarby – met ʼn gelukkige gesin”. Haar karakter word tien jaar ná die geboorte van haar laaste kind weer swanger met haar derde kind, dié keer ʼn seun.

“Die rolprent vertel die verhaal van dié gesin wat saam op hierdie ontdekkingsreis gaan om te probeer vasstel wat fout met hulle baba is – maar wanneer hulle wel agterkom dat dit outisme is, is daar ʼn nuwe geworstel om te probeer uitpluis hoe om outisme te hanteer,” vertel sy.

Diaan Lawrenson as Ingrid en June van Merch (Foto: Facebook)

Hoewel outisme die sentrale dryfkrag agter die fliek is, meen Lawrenson talle ander temas staan ook sentraal in die verhaal – temas wat volgens haar ewe belangrik is. “Die fliek gaan ook oor hoe ons as samelewing mekaar verwerp en uitstoot omdat ons nie sekere goed van mekaar verstaan nie,” sê sy. “ʼn Sterk tema is ook verdraagsaamheid en hoe ons nie oor sekere goed in ons gemeenskappe praat nie. Outisme is maar een voorbeeld hiervan. Die ding is juis: as ons meer oor hierdie kwessies begin praat, sal ons meer empatie hê en mekaar beter kan verstaan.”

Lawrenson meen dié rol het haar veral ook laat nadink oor haar verhouding met haar eie kinders en dat haar ouerskap waarskynlik daartoe bygedra het om die karakter eerlik te vertolk. Die aktrise is ma van Olivia Rose (7) en Thomas (4) saam het haar akteur-man, Jody Abrahams.

Agter die skerms van ‘Raaiselkind’ saam met André Velts, regisseur (Foto: Facebook)

“Hoewel dit nie vir elke akteur geld nie, het ouerskap persoonlik tot my eie reis bygedra om hierdie rol te vertolk. Ek het my daagliks afgevra hoe ek as ma in ʼn spesifieke situasie sou reageer. Die karakter het werklik diep onder my vel ingekruip in terme van die isolasie wat sy beleef het. Daar was oomblikke dat ek baie dankbaar was vir die meer eenvoudige verhouding wat ek met my kinders het en dat ek nie noodwendig daardie uitdagings het nie. Daar is egter ook ouers van outistiese kinders wat bevryding in ander situasies kry.

“Ek het meer as een keer besef dat ʼn ma enigiets sal doen om haar kinders te beskerm – ongeag of hulle verkeerd is of nie. Ek dink dit was Ingrid se grootste verantwoordelikheid om haar kind te beskerm teen almal; selfs ook in haar huis. En ek dink as ma sou ek my kinders ook op so ʼn manier beskerm het,” vertel sy.

Lawrenson sê buiten navorsing wat die span vooraf gedoen het, het ʼn sielkundige ook saam met die akteurs op stel gewerk. “Ian Roelofs [wat die rol van Alexander vertolk] was een van die karakters wat baie moeilike storielyne moes vertolk – veral vir ʼn jong seuntjie,” vertel sy. “Die sielkundige het professionele hulp op stel gebied om ons te help om deur van die tonele te werk en die storielyne te verstaan. Ek self moes ook ʼn vertrouensverhouding met Ian opbou. Sommige van sy tonele was verskriklik traumaties en hy moes my daarvoor vertrou sodat ons dié tonele so outentiek moontlik vertolk.”

Die aktrise meen kykers sal waarskynlik vir hulself moet besluit wát die uiteinde van die fliek is – soortgelyk aan Botes se boek waar die slot ook ʼn “raaisel” bly.

Raaiselkind draai vanaf 16 Februarie in teaters landwyd. Vir meer inligting, besoek die fliek se amptelike Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Stokkies ·

Die voorskou wat huidiglik wys is baie onstellend, hoe enige iemand daarna wil kyk weet nugter aleen..

Leeu ·

Dan is daar seker bitter min stories en flieks wat jy kan kyk

Irma ·

Vir ouers wat elke uur van elke dag in daardie posisie is is dit hul lewe waarvan hulle die beste vir die kind wat die Here aan hul toevertrou het wil gee en sovér moontlik ‘n normale lewe aan hul ander kinders. Ek weet want en het ‘n niggie in daardie posisie.

Elle ·

Dankie Irma vir jou mooi woorde van verstaan.
Ek het nie die Raaiselkind-film gesien nie maar die boek gelees. Spot-on!
Dit was soortgelyk aan my ondervinding met Outisme oor lang jare heen.
As enkelouer van ‘n 25 jarige Outis wil ek aan ander
veroordelende mense sê…
“AUTISM is Their disability, don’t let ignorance be Your disability …”

outis mamma ·

ek stem volkome saam. sal my kind vir niks in die wêreld verruil nie. nie eens net 1 dag van “gewoon” wees nie, want dit is boring.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.