Luister: Die Kannie Warries Dansorkes: ‘Ons is anders’

kannie warriesBoeremusiekliefhebbers skoffel sedert 2000 reeds dansvloere oor die land aan die brand op die opgewekte klanke van die Kannie Warries Dansorkes. Nou is dié gesogte groep terug met ʼn splinternuwe album getiteld Witwarm Kitaarklanke.

Dié groep, wat deur die jare gereeld van orkeslede verwissel het, bestaan tans uit ʼn vyftal uitmuntende musikante uit die Vaaldriehoek. Jurg Basson is die orkesleier en tokkel die banjo, Rudi Jooste is op leierkitaar, Danie Heunis bespeel die baskitaar, Nico Heunis slaan die tromme en Ria Best bekoor op ritmiese kitaar.

Witwarm Kitaarklanke is die groep se eerste vollengte-album sedert Vaalrivier se boogie-snare in 2015 uitgereik is. Die album is deur die bekroonde musikant en vervaardiger Ernie Bates vir Sweepslag Studios vervaardig.

Basson het aan Maroela Media vertel boeremusiekliefhebbers sal dadelik hoor dat hulle “iets anders” met die kitare op dié album gedoen het. “Jy kan onmiddellik hoor dit is die Kannie Warries wat daar speel.”

Witwarm Kitaarklanke bevat 13 vrolike voetjeuksnitte in die uiteenlopende omvang van die boeremusiekspektrum: walse en setiese, vastrappe en kwêlas. Basson sê dit is moeilik om ʼn gunstelingliedjie op die album te kies, maar as hy móét, sal dit een van die groep se eie komposisies wees. “‘Lieflike Linzuné’ is vir my kleindogter geskryf. Dan het ons ook ‘Ernie se tokkel’, wat na ons vervaardiger vernoem is.”

Twee geliefde country-gunstelinge, “Your Old Love Letters” en “A Couple More Years”, kry ʼn snaarinspuiting en die tydlose “Kalfiewals” word byderwets herleef.

Die Kannie Warries se eiesoortige snaarklank is deur die jare blink gepoets en geslyp en het ontwikkel tot een van die bestes in die land. Hulle spog met talle Bobaas-Boere-toekennings en benoemings vir die Ghoema-musiektoekennings. Witwarm Kitaarklanke is vanjaar benoem vir ‘n Ghoema vir beste boere- of tradisionele musiek-album.

Witwarm Kitaarklanke is beskikbaar by alle groot musiekwinkels en word ook digitaal vrygestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Waarheid ·

Mooi daai kitaar klank bly lekkerrr kalfiewals ?? dankie

Jenny Thom ·

Ai, my ai, maar julle kan darem lekker musiek maak. Sjoe hoe is ek nie nou lus vir ‘n walsie of twee nie. Onse boere bly maar lief vir ons boeremusiek, die beste in die hele wëreld. So ‘n wonderlike gawe om so musiek te kan maak!!!

treurgrond ·

Vat hom julle daar is niks lekkerder as Boeremusiek nie – en almal juig en dans en dans en dans.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.