Luister: ‘Dis koue kos, skat’ leer oor vergifnis

Dis koue kos, skat (Foto: Facebook)

Dis koue kos, skat (Foto: Facebook)

Die nuwe Afrikaanse fliek, Dis koue kos, skat, wat geskoei is op ʼn roman deur Marita van der Vyver met dieselfde titel, gaan leer oor vergifnis en aanvaarding, maar nie sonder om ʼn stekie of twee in te kry nie.

Die aktrise Angelique Gerber, wat die rol van Anaïs vertolk, en die regisseur Ettienne Fourie het onlangs met Maroela Media gesels oor wat dié fliek spesiaal maak.

Dis koue kos, skat, vertel die storie van die kosskrywer, Clara Brand (Anna-Mart van der Merwe), wat ná haar man, Bernard (Deon Lotz), se ontrouheid met een van haar beste vriendinne (Angelique Gerber), op ’n nuwe begin in Kaapstad saam met haar twee kinders en hulle mopshond, Tjoklit, besluit, en hiermee ʼn reis van genesing en wraak begin.

Met sewe studente, almal mans, wat opdaag vir Clara se nuwe kookklas, is haar beste vriendin, Minette (Elzabé Zietsman), daarvan oortuig dat die heelal vir haar ʼn boodskap stuur – dit is tyd vir ʼn herlewing van haar liefdeslewe.

Dis koue kos, skat (Foto: Facebook)

Dis koue kos, skat (Foto: Facebook)

Clara deurleef die verskillende fases van haar herstelproses: woede, aanvaarding, hernieude bande met haar eksman, die deurlopende poging om haar kinders gebalanseerd groot te maak en die moontlikheid van ’n splinternuwe romanse – met (pogings tot) waardigheid, ’n sin vir humor en natuurlik heerlike kos.

Fourie sê dit is veral die element van vergifnis wat in die fliek uitstaan. “Die naam van die fliek kom van die Engelse gesegde, revenge is a dish best served cold. Die fliek leer egter dat dit nie altyd die antwoord is nie en dat jy moet vrede maak met party dinge. Dit is egter nie nodig om vrede te maak sonder om bietjie pret te hê nie.”

Gerber het ook vertel dié rol gee diepte aan haar as aktrise. “Ek wil hê mense moet sien dat ek verskeie rolle kan vertolk. Ek is nie net die girl next door nie, ek kan ook ander rolle vertolk. Ek dink veral die rol van Anaïs gaan ʼn ander sy van my ten toon stel.”

Dis koue kos, skat (Foto: Facebook)

Dis koue kos, skat (Foto: Facebook)

Fourie meen Van der Vyver se insette in die fliek verseker dat die boodskap steeds eg bly. Hy sê egter dis ʼn baie moeilike proses om ʼn boek in ʼn fliek te verander. “Dit was veral ook moeilik in die fliek, omdat Clara se rol in die boek net uit briewe bestaan. Ek en Marita kon dus die legkaarte rondskuif en bietjie verander daaraan. Ons is baie tevrede met die eindproduk.”

Die fliek is gemaak vir ʼn wye gehoor. “Hierdie fliek is vir almal gemaak. Maar dit is veral vroue wat hulle die meeste met die fliek sal kan vereenselwig.”

Ander akteurs soos Deanré Reiners, Frank Opperman, Bouwer Bosch en Anne Hirsch is ook in die fliek te sien.

Dis koue kos, skat begin op 26 Augustus landwyd in teaters draai.

Die fliek word ook by Silwerskermfees in Kaapstad vertoon van 24 tot 27 September.

Besoek Dis koue kos, skat se Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Subeth ·

Het die boek gelees en was mal daaroor, kan nie wag om die film weergawe te sien nie…

Andre ·

Wie doen die song dit klink soos van coke kartel. wat is die song se naam. mal oor die song

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.